Update
GEORGE NUUS - Sy ouma se grootste wens is om hom nog net één keer te sien om totsiens te sê.
Maar wat veronderstel was om 'n heerlike dag by die see te wees het vir 'n familie van Parkdene vinnig in 'n nagmerrie ontaard toe hul seun, Lorenzo Smith (23), onder die water verdwyn het.
Smith en sy vriende het Saterdag 17 Oktober by die Gwaiingriviermond in Pacaltsdorp gekuier toe hy gaan swem het. Hy het onder die water verdwyn en is daarna nie weer lewend gesien nie.
"Vir die familie is dit 'n baie droewige tyd en net tyd sal genesing kan bring. Sy ouma wil hom net nog een keer sien om totsiens te sê. Die hele familie is gebroke, ons harte is bitter seer. Hy was 'n stil en nederige man. 'n Mense-mens wat vir sy vriende en familie omgegee het en altyd daardie ekstra tree gegee het," vertel Smith se stiefpa, Daniël Lejander.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, was die gety daardie dag blykbaar baie hoog.
"Die oorledene het glo in die water in die moeilikheid beland en het onder die water verdwyn toe hy deur die sterk stroom meegesleur is," sê Pojie.
Die polisie is omstreeks 15:40 van die voorval in kennis gestel.
"NRSI-reddingswemmers kon daarin geslaag om die liggaam uit die see te haal waarna hulle hom aan die polisie se duikeenheid oorhandig het. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar," sê Pojie
'n Roudiens vir Smith word beplan vir Saterdag 31 Oktober. Hy laat sy geliefde ouma, oupa, ouers, twee broers en twee susters agter.
A 23-year-old man from Parkdene, Lorenzo Smith, drowned at the Gwaiing River Mouth on Saturday 17 October. His body was recovered by NSRI rescue divers. A memorial service is planned for Saturday 31 October.
Vorige artikel: Drowning victim identified
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'