Update
GEORGE NUUS - Baie inwoners ken die gesigte van die hawelose mense in die stadskern, maar ken nie altyd hul name nie. Met Johan du Preez was dit anders.
Mense het geweet wie hy en sy hond, Fix was. Die twee was onafskeidbaar. Dikwels het mense hulle oor die lot van Du Preez en Fix ontferm.
In Maart vanjaar tydens die inperking kon hy nie meer op straat woon nie. Hy het toe ingestem dat Fix tydelik by die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) tuisgaan. Die DBV het Fix op 'n Sondagmiddag voor een van die banke in Yorkstraat gaan haal, maar dit was nie lank nie en Du Preez wou sy hond terughê.
In April is die twee weer verenig toe Du Preez 'n vaste adres gehad het. Dit was 'n blye weersiens. Dit wil voorkom of die twee later weer op straat begin leef het. In Augustus het dit bekend geword dat Fix in die stadskern deur 'n onbekende man met 'n knopkierie geslaan is.
Fix is ná die voorval by die DBV behandel en daarna aan Du Preez terugbesorg. Die berig het op 3 September in George Herald verskyn. Vroeg die Donderdagoggend moes ek gaan verslag doen oor 'n ander berig.
Terwyl ek voor die banke in Yorkstraat gewag het, het ek Du Preez en Fix voor een van die banke gesien. Ek het uit my motor geklim en vir hom 'n koerant geneem.
Hy was verheug om hulle foto in die koerant te sien. Ek het teruggestap na my motor en hom op 'n afstand dopgehou. Koerant in die hand het hy op en af verby die mense in die tou voor die bank gestap en die berig en foto vir hulle gewys.
Net soos baie ander mense trots is as daar iets oor hulle in die koerant verskyn, so was Du Preez daardie oggend ook trots. Al was Du Preez 'n hawelose wat op straat geleef het, was hy maar ook net mens. 'n Mens soos ons almal.
Johan du Preez en Fix. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'