Gallery
GEORGE NUUS - Pacaltsdorpers het gewys wat vir hulle belangrik is. Die boodskap was duidelik: julle vat nie aan ons strand nie!
Sowat 150 mense waaronder vissermanne, geestelike leiers, lede van die Pacaltsdorp Riding Club en hul perde, politici, verteenwoordigers van Codeta Disadvantaged Taxi Association, Rastafariërs en natuurlik lede van Gag (Gwaiing Action Group) het verlede Vrydag, 28 Januarie, aan 'n vreedsame protesoptog vanaf die watertoring in Beachweg tot by George-munisipaliteit deelgeneem.
Die aksie volg na optrede van die polisie en munisipale wetstoepassingsbeamptes op Oujaarsdag, 31 Desember, toe tente en ander kamptoerusting deur die owerhede gekonfiskeer is. Geen kampeerdery word op die strandgebied toegelaat nie, net by die aangewese kampeerarea verder van die see.
Fotogalery: GAG betoog oor Gwaiingriviermond
Volgens dié wat aan die optog deelgeneem het, is daar op Oujaarsaand onnodig hardhandig te werk gegaan. Individue is na bewering verneder en in hegtenis geneem. Dit was 'n onaangename ondervinding soos in die verlede, soos in die Apartheidsjare, het menige gesê.
Pacaltsdorpers wil die vryheid hê om by Gwaiingriviermond se strand te kamp, soos volgens hul tradisie. Vissermanne wil vrye toegang tot die see hê. "Oral waar ons kom is heinings," het 'n visserman, Larry Pretorius, gesê.
'n Griefskrif is aan beide brig. Phumzile Cetyana van die polisie en George-burgemeester, Leon van Wyk, oorhandig.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê George-munisipaliteit is in kommunikasie met die prokureur wat deur Gwaiing Action Group aangestel is, ten opsigte van dokumentasie wat die munisipaliteit aangevra het.
"Die munisipaliteit sal te gelegener tyd reageer nadat die memorandum wat oorhandig is, bestudeer is," het Edwards-Klose gesê.
Betoog vir vrede
Pastoor Allen Spies, voorsitter van die leraarsforum waaraan 13 kerke in Pacaltsdorp behoort, het gesê dat hulle standpunt inneem teen hierdie sosiale ongeregtigheid: "Gwaiing is almal se strand en die geskiedenis moet gerespekteer word.
Uit die clips wat ons op sosiale media gesien het [met verwysing na die voorval op 31 Desember] beskou ons hulle optrede [die owerhede] as te hardhandig en ons bevraagteken die wettigheid daarvan.
"Soms moet jy betoog in die soeke na vrede. Wat ons vandag hier doen, is om vrede te soek deur te betoog." Spies het die skare aangemoedig om die reus van sosiale ongelykheid aan die nek te gryp.
Hy het verwys na rassisme, armoede en werkloosheid wat hoogty vier.
Voorsitter van Gag, Blanche Benjamin, het gesê die munisipaliteit wil "die gat"(Gwaiing) waarin hulle die bruin mense gegooi het nou weer vir hulself hê. Sy het vertel dat dit vroeër die enigste plek was waar die Pacaltsdorpers tydens die Apartheidsera toegelaat is om die see te geniet.
"Dit is ons tradisie, uit die 1980's, dat ons op Oujaars 'n [kerk]diens by Gwaiing hou. Dit is waarvoor die tent daar was." Volgens Benjamin het dieselfde geveg 62 jaar gelede plaasgevind.
Foto's: Michelle Pienaar
Die partye wat in die griefskrif gelys word sluit in: Gag, Good, PBI, PA, EFF, Codeta Disadvantaged Taxi Association, Pacaltsdorp Ministers Fraternal, Rasta-gemeenskap, Pacaltsdorp Business Association, Khoi-gemeenskap, Pacaltsdorp Riding Club, gemeenskapsaktiviste en lede.
Lees die volle griefskrif aan beide die polisie en munisipaliteit hier:
Hier is enkele punte wat genoem word:
- Dat die George-munisipaliteit die hofbevel eerbiedig waar die praktyk van kamp by die Gwaiingriviermond reeds voor 1947 plaasvind. Volgens Gag is 'n hofbevel in 2004/2005 deur die hooggeregshof uitgereik in die verband.
- Alle gelyste partye versoek 'n vergadering met betrekking tot bywette wat toegang tot strande en geriewe beheer.
- Hulle vereis dat die amptenare in die wetstoepassingsafdeling wat die vroue en ander kampeerders hardhandig hanteer het 'n tugproses ondergaan en dat die uitkoms van hierdie prosesse aan die beswaarde partye gekommunikeer word.
- Dat die amptenare wat toestemming gegee het vir die onwettige verwydering en konfiskering van eiendom onmiddellik geskors word aangesien hul optrede onwettig was.
- Dat die taxi's toegelaat word om pendelaars te vervoer in die gebiede waar die Go George-busdiens nie diens lewer nie. Dat die onwettige skut van taxi's gestaak word aangesien dit 'n onnodige las plaas op diegene wat die lot van die armes, kwesbares en gemarginaliseerdes probeer verlig.
- Dat die teistering van taxibestuurders gestaak word aangesien dit rasgemoti-veerd is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'