Update
GEORGE NUUS - Danksy die ruim harte van inwoners, kan Famsa (Families South Africa) nou groot vreugde verskaf aan die kinders in George wat deur hulle gehelp word.
Talle sagte speelgoed is Saterdag 15 Mei deur inwoners by Famsa se kantore in Meadestraat afgelaai.
Famsa is 'n nie-winsgewende organisasie wat hul beywer vir gesonde familie-verhoudings.
Nicolette Buitendag, Famsa se direkteur in George, het gesê die speelgoed sal in die terapiekamers gebruik word. "Ons werk met kinders en volwassenes wat emosionele uitdagings het. Die speelgoed wat afgelewer is, help elke liewe kindjie op sy/haar emosionele reis. Dit gee ook iets vir hulle om huis toe te neem."
Volgens haar is dit Saterdag gehou om saam te val met Internasionale Gesinsdag. Die gemeenskap se steun het gewys dat hulle omgee.
Nicolette Buitendag, Famsa se direkteur in George, by van die speelgoed wat Saterdag geskenk is.
"Ons wil elke individu, kleuterskool en skool bedank vir die manier waarop hulle Famsa met die projek ondersteun het. Die reaksie was oorweldigend.
"Dit was die eerste keer dat dit gehou is en omdat daar so 'n oorweldigende reaksie was, deel ons van die geskenkte speelgoed met instansies wat min of meer dieselfde werk as ons doen en met kinders werk. Ons hoop om dit 'n jaarlikse instelling te maak."
Buitendag het gesê Covid-19 het op verskillende vlakke druk geplaas op individue en gesinne. "Ons sien baie kinders wat 'n belangrike persoon in hul lewe verloor het.
"Daar is ook druk op volwassenes wat hul werk verloor het en/of finansieel skade gely het. Ons sien meer mense met angstigheid en stresverwante uitdagings.
"In 'n wêreld waar mense so ver van mekaar leef, het Saterdag net weer gewys mense se omgee is nog nie weg nie," het sy gesê.
Nicolette Buitendag, Famsa se direkteur in George, by van die speelgoed wat Saterdag geskenk is.
Lede en ondersteuners van Famsa by van die speelgoed wat Saterdag in George geskenk is. Foto's: Eugene Gunning
Verwante artikel: Skenk 'n sagte speelding vir terapiesentrums
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'