GEORGE NUUS - Famsa (Families South Africa) Outeniqua het 'n groot behoefte aan sagte speelgoed vir kinders wat berading by hul terapiesentrums regoor die dorp ontvang.
Dié nie-winsgewende organisasie hou Saterdag 15 Mei, op Internasionale Gesinsdag, 'n Soft Toy Drive. Enigeen kan tussen 10:00 en 12:00 'n sagte speelding by hul perseel, by Meadestraat 68, kom afgee.
Bokse word vir die doel beskikbaar gestel. Die enigste versoek is dat die speelgoed skoon en heel moet wees.
Famsa streef daarna om gesonde verhoudings binne 'n gemeenskap te bou. Dit sluit in verhoudings op gesinsvlak, tussen individue, in organisasies en werksplekke.
"Ons gee om vir mense," het direkteur Nicolette Buitendacht gesê. "Ons werk heel dikwels met kinders wat trauma ervaar en onveilig voel. Ons gebruik die sagte speelgoed om hulle veilig en op hul gemak te laat voel. Ons stuur die speelgoed ook heel dikwels saam met hulle huis toe, want dit vorm deel van hul emosionele reis."
Ander afsetpunte sluit in George Voorbereidingskool, Lugkasteel Nursery School en Little Farm Nursery School. Speelgoed kan by hierdie skole afgegee word, wat dit op hul beurt na Famsa sal neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'