GEORGE NUUS - George-munisipaliteit het 'n nuut aangestelde adjunk-direkteur van finansies. Henry Mitchell het einde verlede week die goeie nuus ontvang dat hy die gekose kandidaat vir die posisie is. Mitchell se aanstelling het op 1 September ‘n aanvang geneem. Die vorige amptenaar in die posisie was Moos Cupido.
Hierdie wending volg 20 dae ná 'n groep inwoners van meesal New Dawn Park, op 10 Augustus voor die munisipaliteit se deure plakkate geswaai het om aan te dring op Mitchell se aanstelling. Onder leiding van Joanie Visagie-Jantjies het die betogers kapsie gemaak teen die voorgestelde aanstelling van 'n "wit Zimbabwiese vrou" in die posisie.
Hulle het aangevoer dat Mitchell, ten tye 'n senior beampte in die munisipale departement van finansies, voorkeur behoort te geniet omdat hy reeds vir meer as tien jaar daar werk, hulle taal kan praat en 'n plaaslike persoon is.
Die groep betogers het 'n petisie aan die munisipale bestuurder, Trevor Botha, oorhandig. 'n Tweede petisie is deur Isaac Felix, lid van 'n plaaslike Khoisan-drukgroep, aan Botha oorhandig.
Visagie-Jantjies en 'n paar ondersteuners van Mitchell het hom Maandagoggend persoonlik op kantoor met die aanstelling gelukgewens. "Ons het in die reën betoog, dit was showers of blessings," het sy gesê. VF Plus-raadslid Gert van Niekerk, het sy stem by die groep geskaar. Hy het hom uitgespreek teen "growwe diskriminasie" teenoor Mitchell. "Ons is baie dankbaar dat die korrekte persoon uiteindelik aangestel is," het hy gesê.
Sammy Claassen, woordvoerder van die Khoisan Defiance Campaign, het in 'n persverklaring gesê hul veldtog ten gunste van die aanstelling van 'n plaaslike persoon is 'n groot oorwinning vir plaaslike inwoners en werksoekers.
Kommentaar van George-munisipaliteit rondom 'n vraag oor of druk van die betogers tot Mitchell se aanstelling gelui het, word verwag.
* George municipality has a newly appointed deputy director of finance. Henry Mitchell, a senior official at the department, was appointment on 1 September.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'