GEORGE NUUS - Wees passievol en moet nooit tou opgooi nie. Dit is die boodskap van twee entrepreneurs wat onlangs as die wenners by 'n entrepreneurs-geleentheid van die AHi Wes-Kaap aangewys is.
Altesaam 15 mense is genooi na die beoordeling wat oor vyf dae gestrek het, waar die entrepreneurs onder meer hul onderskeie besigheidsplanne aan 'n paneel van kundiges voorgelê het. Dit is deur die paneel ontleed en uiteindelik is wenners aangewys. Die deelnemers het gewissel van 'n vis-en-skyfieonderneming tot 'n maatskappy wat spesiale geleenthede (events) aanbied en spyseniering verskaf.
Die wenner van die eerste prys was Lambert March van LHM Couriers, wat R5 000 ontvang het. Nadia Lottering van Grace Decor Trading het die tweede plek losgeslaan en prysgeld van R3 000 ontvang.
Die wenners se advies kan waardevol wees hier teen die einde van die jaar vir mense wat hul werk verloor het en nou hul eie potjie moet krap.
March vertel dat hy sedert 2012 sy eie ding doen. Hy erken dat hy al soms in die nag wakker gelê het oor sy maatskappy, maar nogtans sal hy enigiemand aanbeveel om self 'n onderneming te begin. Hy was sedert 2003 by 'n soortgelyke maatskappy betrokke, waar hy besef het dat daar 'n groot behoefte vir sulke maatskappye is.
Aanvanklik het hy sy besigheid op klein skaal bedryf, met net een bakkievoertuig. Vandag besit hy twee bakkies en 'n klein voertuig waarmee hy dienste lewer. Hy verskaf onder meer daagliks 'n afleweringsdiens tussen George en Mosselbaai. Op die oomblik is daar twee bestuurders en 'n administratiewe dame in sy diens.
"Dis harde werk," sê hy, maar voeg by: "Ek sal dit beslis aanbeveel. Die geleenthede is daar".
Hy benadruk dat iemand wat by sy/haar eie onderneming betrokke is, ten alle tye positief moet bly. Hy beplan om aanstaande jaar sy roetes uit te brei met roetes tussen George en Kaapstad en tussen George en Port Elizabeth. March sê hy het die afgelope paar jaar baie geleer en sy onderneming het uitstekende groei beleef. "Ek moes alles self doen. Dit was 'n groot leerskool. Natuurlik is daar uitdagings, maar die vrug wat jy pluk gee soveel meer vreugde."
Hy sê verskeie faktore speel 'n rol in die sukses van 'n besigheid. "Dit help as jy ondervinding het. As jy positief is en 'n passie het vir die werk is die kanse baie goed dat jy 'n sukses sal maak."
Lambert March het die eerste prys van R5 000 ontvang met sy besigheid, LHM Couriers.
Nadia Lottering van Grace Decor Trading het die tweede prys gewen. Sy is van Uniondale. Sy het haar onderneming, wat dekor in sale en huise vir geleenthede verskaf, in 2017 begin. Aanvanklik het sy dekor in 'n kerk verskaf in die vorm van gordyne wat as versiering gebruik is, en later het sy uitgebrei na troues. Lottering sê sy verdien sy 'n leefbare inkomste. Aan die begin was dit 'n groot uitdaging.
Sy geniet wat sy doen, sê sy, al is dit nie maklik om jou eie onderneming te bedryf nie. Dit hang van persoon tot persoon af hoe sy/haar eie onderneming bedryf. "Dit moet 'n passie wees. Elke geleentheid is uniek." Haar advies aan mense is om nooit tou op te gooi nie of moed te verloor nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'