Update
GEORGE NUUS - Alle gedenkstene, kruise en kissies met die as van gestorwenes wat teen Woensdag 1 Julie nog by die suidwestelike punt van Victoriabaai is, sal daarna verwyder word. Dit sal dan in 'n krat gepak word en by die ingang van Victoriabaai geplaas word.
Dit is die nuutste verwikkelinge oor die sensitiewe aangeleentheid wat nou al etlike maande duur. Vrae het die afgelope naweek opnuut op sosiale media ontstaan. Inwoners van Victoriabaai het vroeg in Maart 'n kennisgewingbord aangebring wat mense tot 30 Junie (komende Dinsdag) tyd gee om die items te verwyder.
Na die spertyd sal die inwoners die oorblywende gedenkitems self verwyder.
Op die Facebook-groep, Georgiete Staan Saam, het iemand die afgelope naweek na die kennisgewingbord verwys en geskryf: "Lyk my iemand kan nie 'n kalender lees nie. Ek staan vandag '21 Junie 2020' hier op lands end om my pa se kissie te kry. Is dit net ek wat nie 'n almanak kan lees nie of is dit die persone wat dit verwyder het? Ek kon nie deur lockdown dit hom haal het nie. Wie kan ek kontak i.v.m. dit?"
‘n Leser wat verkies om anoniem te bly het gesê hulle was Sondag daar om 'n kissie te verwyder. Hulle kon dit ook nie vind nie. Hulle is baie ongelukkig want hulle kon dit weens die inperkingsmaatreëls nie vroeër doen nie.
Betrokkenes wat verkies om anoniem te bly, het Dinsdag aan George Herald bevestig dat die kennisgewingbord steeds van toepassing is. As die as, kissies en gedenkstene nie teen volgende week verwyder is sal dit na die ingang van Victoriabaai geneem word waar familie en geliefdes dit dan kan kry.Die kennisgewingsbord wat vroeg in Maart deur inwoners by Victoriabaai aangebrig is.
Volgens een van die betrokkenes wil hulle niemand benadeel nie. "Ons wil die gebied meer toeganklik maak."
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit het in Maart aangedui dat die aangeleentheid aandag geniet. Klaarblyklik is die grond waarop die kissies en gedenkstene is, die verantwoordelikheid van die distriksmunisipaliteit.
So lyk een van die rotse by Victoriabaai nadat 'n gedenkplaat daar verwyder is. Die foto is Sondag geneem. Foto's: Eugene Gunning
Die aanloop
'n Inwoner van die Suid-Kaap, het in Oktober verlede jaar op 'n Facebook-groep verwys na die teenwoordigheid van die kissies en gedenkstene. Dit het wye reaksie op sosiale media uitgelok.
George Herald het in Januarie berig dat inwoners in Desember besluit het dat gepoog moet word om dit te verwyder. Daarna is wye reaksie ontlok en die familie van die Afrikaanse sanger, wyle Lucas Maree, het uit eie wil besluit om sy gedenksteen te laat verwyder.
Die George-munisipaliteit het vroeër alle navrae oor die kissies en gedenkstene na die Garden Route-distriksmunisipaliteit verwys. Die distriksmunisipaliteit het begrip vir die besorgdheid wat deur toeriste en/of mense wat soms Victoriabaai besoek geopper is. Die aangeleentheid kry daadwerklik aandag. Dit is nie bekend hoe ver dit gevorder het nie.
Een van die inwoners het die afgelope Maandag gesê hulle wil graag die betrokkenes kans gee om dit self te verwyder. Mense het die gebruik begin en dit skend die natuur. "Baie mense met kinders wil nie meer hier kom nie. Hoe sal iemand voel as kissies naby hul eiendom geplaas word?" wou die inwoner weet.
A notice at the south-western point of Victoria Bay indicating that people have until 30 June to remove all plaques, ash boxes and crosses, is applicable. The notice was put up in March by residents. People with knowledge of the matter confirmed this week that the remaining mementos will be removed to the entrance after 30 June, where they can be collected.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'