Update
GEORGE NUUS - Dis nie toevallig dat 'n hond die mens se beste vriend genoem word nie. Daarvan kan Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua-versorgingsentrum, getuig.
Sy het kort voor die nasionale inperking in werking getree het, by haar kantoor ingetrek en slaap en werk nou vandaar.
Sy kon dit doen want haar dogter Anet-Mari is by haar huis en sy kyk na haar twee Labradors, Coco en Lady.
Die verlange het intussen vir Coco te veel geword en Voigt het haar gaan haal. Coco woon nou tydelik saam met haar in haar kantoor by Tuiniqua.
Voigt en die 12-jarige Labradors kom al 'n lang pad. Sy het hulle in 2018 by Lab Rescue aangeneem en hulle is per vliegtuig van Johannesburg na George gebring. Sedertdien is sy en die twee honde onafskeidbaar.
Gelukkig was dit nog nie vir haar nodig om lang tye van hulle af te weg gaan nie.
Maar toe kom die inperking. "Anet-Mari het 'n paar dae na die inperking in werking getree het, gebel en vertel dat Coco verskriklik verlang. Sy kon nie huis hou met haar nie."
Voigt het toe besluit om Coco te gaan haal en sedertdien is sy nou ook 'n "inwoner".
Volgens Voigt gaan dit nou baie goed met Coco. "Sy is stertswaai gelukkig en loop oral agter my aan. Die inwoners spot al en sê as hulle die hond sien dan moet ek in die omgewing wees."
Coco volg haar eienaar, Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua-versorgingsentrum, soos 'n skaduwee.
Coco se teenwoordigheid help ook op 'n ander vlak. Die eentonigheid van die inperking word effens gebreek deur die teenwoordigheid van 'n hond op die perseel. "Almal wil net aan haar vat. Haar teenwoordigheid bring goeie herinneringe vir inwoners en hulle vertel graag van toe hulle self honde gehad het."
Almal dra vir haar kos aan en sy het 'n spesifieke bak waaruit sy eet. Elke aand kry Coco ook talle aanbiedinge vir slaapplek van inwoners.
Volgens Voigt is tot redelik onlangs geen troeteldiere by Tuiniqua toegelaat nie, maar tydens 'n strategiese beplanning in 2019, is die beleid hersien. Die beleid reflekteer nou dat inwoners kontak nodig het met troeteldiere vanweë die terapeutiese aard daarvan. Ofskoon Coco nie 'n gekwalifiseerde terapiehond is nie (sy is te oud om nou te kwalifiseer), kwyt sy haar uitstekend van haar taak en bewys die behoefte wat ouer mense het aan kontak met diere.
Jake Muller, voorsitter van die inwonerskomitee, het Dinsdag gesê die hond se teenwoordigheid het 'n positiewe impak op inwoners. Sy is hoegenaamd geen probleem nie. As inwoners Voigt met die hond sien, stop hulle haar eers en gesels.
Lieschen de Goede, hoof van die verpleeg-afdeling by Tuiniqua-versorgingsentrum, het gesê die hond hou geen gesondheidsgevaar in nie.
Troeteldiere soos honde het terapeutiese voordele. Dit help onder meer om stresvlakke te verlaag.
Coco tuis in die kantoor en nou woonplek van haar eienaar, Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua-versorgingsentrum.
Lees 'n verwante artikel: Vrou woon nou in haar kantoor
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'