Update
GEORGE NUUS - In 'n stampvol hof het die broers van Pacaltsdorp, Jhrlique Olkers (30) en Marciano Danster (25), wat vir die moord op Daywin Jonas (26) beskuldig word, Donderdag 31 Augustus hul borgtogaansoeke laat vaar.
Danster se regsverteenwoordiger, Winston Jansen, het tydens hofverrigtinge aangedui dat sy kliënt 'n pleitooreenkoms volgens Artikel 105a van die strafproseswet, wil aangaan.
Olkers word in hierdie stadium deur Legal Aid SA verteenwoordig.
Die broers staar aanklagte van moord, vervalsing, besit van gesteelde eiendom en bedrog in die gesig ná hulle glo Jonas om die bos gelei en hom vermoor het. Jonas se verkoolde liggaam is op 27 Julie langs die N9 naby Uniondale gevind en moes deur middel van DNS-toetse uitgeken word.
Die uitslae van die toetse het verlede week bevestig dat dit wel Jonas se liggaam is.
Daywin Jonas se verkoolde liggaam is langs die N9 naby Uniondale gevind.
Die voorval
Jonas, oorspronklik van Joubertina, het in Conville gewoon en op 26 Julie vermis geraak toe hy sy huis verlaat het om 'n voornemende koper vir sy wit VW Citi Golf te ontmoet.
Hy het omstreeks 21:30 daardie aand vir sy meisie 'n boodskap gestuur waarin hy vertel het dat hy op pad is om die koper in die buitewyke van Pacaltsdorp te ontmoet. Kort daarna kon hy nie op sy selfoon bereik word nie.
Die polisieondersoek het op 3 Augustus beamptes na verskeie huise in Pacaltsdorp gelei waar motoronderdele van Jonas se voertuig gevind is. Sy selfoon is ook by 'n huis in Kerkstraat gevind nadat dit verkoop is. Die beskuldigdes is kort daarna in hegtenis geneem.
Dit was na bewering hier, op 'n kleinhoewe in Hansmoeskraal, waar Jonas op 26 Julie vermoor is. Daar word vermoed dat die verdagtes sy lyk in die kattebak van Olkers se swart Volkswagen Golf – 'n voertuig wat die polisie in hul ondersoek ontdek het in Junie 2022 in Caledon gesteel is – gesit het terwyl die wit Golf gestroop is.
Hulle het glo later probeer om die gestroopte voertuig elders in George weg te steek.
Dieselfde aand het hulle petrol by 'n vulstasie in George gekoop en in die rigting van Uniondale op die N9 gery waar hulle na bewering Jonas se lyk in 'n asblik langs die pad weggedoen en dit aan die brand gesteek het.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’