Update
GEORGE NUUS - Twee broers van Pacaltsdorp, Jhrlique Olkers (30) en Marciano Danster (25), wat beskuldig word van die moord op Daywin Jonas (26), het vanoggend, Donderdag 31 Augustus, in die George-landdroshof vir hul formele borgtogaansoeke verskyn.
Albei het aangedui dat hulle nie vir borgtog wil aansoek doen nie.
Die beskuldigdes staar aanklagte van moord, vervalsing, besit van gesteelde eiendom en bedrog in die gesig.
DNS-toetse het gister bevestig dat die verbrande liggaam wat op 27 Julie langs die N9 naby Uniondale gevind is, wel dié van Jonas is.
Jonas, oorspronklik van Joubertina, het in Conville gewoon en op 26 Julie vermis geraak toe hy sy huis verlaat het om 'n voornemende koper vir sy wit VW Citi Golf te ontmoet.
Hy het omstreeks 21:30 daardie aand vir sy meisie ’n boodskap gestuur waarin hy vertel het dat hy op pad is om die koper in die buitewyke van Pacaltsdorp te ontmoet. Kort daarna kon hy nie op sy selfoon bereik word nie.
Jonas het nooit teruggekeer huis toe nie en sy familie het hom as vermis aangemeld.
Die polisieondersoek het op 3 Augustus beamptes na verskeie huise in Pacaltsdorp gelei waar motoronderdele van Jonas se voertuig gevind is. Sy selfoon is ook by 'n huis in Kerkstraat gevind nadat dit verkoop is.
Die beskuldigdes is kort daarna in hegtenis geneem.
Die borgtogaansoek vir die ma, Chantelle Domingo (32), wat saam met haar kêrel, Ray Morgan Cronjé (32), aangekla word van die die moord op Domingo se negejarige seun, Juwayne, vind tans in die George-landdroshof plaas.
'n Klein groepie mense het vanoggend 'n plakkaatbetoging teen die borgtogaansoeke in beide voorvalle, voor die hof gehou.
Foto's: Kristy Kolberg
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’