Update
GEORGE NUUS - Hy was haar enigste seun en haar trots vir haar kind kan nie gemeet word nie.
"Daar is niemand wat my kind ken soos ek hom geken het nie. Ek kan met trots sê hy is my kind. Ek was nie nét sy ma nie, maar sy luisteraar en beste vriend. Hy was my rolmodel en ek syne."
Só het Martha Barnard haar seun, Warwick Fischer (33), wat op 'n sinnelose wyse die afgelope naweek vermoor is, beskryf. Hy was 'n brandweerman by George-brandweer.
Warwick is aangeval toe hy Sondagoggend omstreeks 05:20 glo besig was om sy hek na die ingang van sy huis in Brucestraat, Borcherds, te sluit.
Hy het steekwonde aan sy nek en rug opgedoen in wat blyk om 'n rooftog te wees.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Fischer daarna in sy eie voertuig geklim en self na die hospitaal probeer ry.
Op pad hospitaal toe het hy egter sy bewussyn verloor en in 'n huis in Kroghstraat vasgery. Fischer is kort daarna per ambulans na die hospitaal geneem waar hy met sy aankoms dood verklaar is.
'n 27-jarige man, Shawn Arries, is dieselfde dag in hegtenis geneem op 'n aanklag van moord.
Hy het Dinsdag 17 Oktober in die George-landdroshof verskyn waar die saak tot 14 November uitgestel is vir sy formele borgtogaansoek. Hy bly in aanhouding.
Hy was trots op sy werk.
'n Ma se gebroke hart
Barnard vertel hoe Warwick van kleins af gedroom het om 'n brandweerman te word. "Hy was my broodwinner en my eie brandweerman. As seuntjie het hy altyd gesê hy gaan 'n brandweerman word - en dit is presies wat hy gedoen het. Hy was 'n brandweerman van formaat wat sy visie en droom met passie uitgeleef het," sê sy.
Sy bedank die gemeenskap vir hul hulp en vinnige optrede Sondagaand. "Dankie dat julle omgee en dankie aan Shane Fisher en sy span.
"Dankie vir die wonderlike diens wat Mediclinic George gelewer het. Dankie vir George-brandweer en vir al sy skofmaats se liefde, kameraadskap en jare se omgee en bystand wat hulle aan my kind bewys het."
Shane Fisher en Warwick Fischer was neefs wat saam by die brandweer gewerk het. Shane en sy span was een van die eerstes op die toneel ná Fischer in die huis in Kroghstraat vasgery het.
George se brandweerhoof, Neels Barnard, het sy meegevoel aan Fischer se familie en vriende betoon.
Dié trotse brandweerman het reeds in 2008 sy loopbaan by die munisipaliteit begin en is in 2017 permanent aangestel.
"Hy was 'n uiters harde werker en het 'n passie vir brandbestryding gehad. Hy sal baie gemis word deur sy kollegas," het Barnard gesê.
George se uitvoerende burgemeester, Leon van Wyk, asook die munisipale bestuurder, dr. Michele Gratz, het vroeër vandeesweek hul meegevoel namens die raad en die munisipaliteit aan Fischer se naastes betuig.
Begrafnisreëlings
Fischer laat sy ma, drie susters, drie kinders, sy meisie en drie susterskinders agter. 'n Gedenkdiens is gister, Woensdag 18 Oktober, by die St Paul's Anglikaanse Kerk gehou.
Daar word Saterdagoggend, 21 Oktober, om 08:00 'n huisdiens by 17 Rangerstraat in Borcherds gehou waarna die kerkdiens om 09:00 by die St Paul's Anglikaanse Kerk begin.
Fischer het deelgeneem aan 'n internasionale brandweermangeleentheid wat in Mei in Stellenbosch gehou is. Hy is hier te sien saam met kollegas Bethwell Grootboom, Denzil Muller en Thabiso Keketsi aan sy linkerkant en regs van hom Ricardo Micheals, Joseph Fortuin en brandweerhoof Neels Barnard.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’