Update Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - Die jong ma van New Dawnpark, Bianca Matroos (26), wie se liggaam op Sondag 17 November 2019 in 'n veld by die George Riding Club gevind is, is brutaal vermoor en verkrag.
Dit blyk uit die getuienis wat die ondersoekbeampte, sers. John Boezak, Dinsdagoggend 16 November, in die rondgaande hooggeregshof in George afgelê het.
Patrick Muller (40) van Rosemoor is in die vroeë oggendure van 24 November 2019 in Club Nitro Lounge (Nitro) in hegtenis geneem, enkele dae nadat Matroos se liggaam verlate in die veld gevind is.
LEES MEER: Man arrested after murder at riding club
Die hof het gehoor dat met Boezak se aankoms die Sondagoggend omstreeks 07:40, was die oorledene se liggaam reeds in die vroeë stadium van ontbinding en haar regteroor was vergruis. Hy het ook twee boustene, een groot en die ander een kleiner, aan weerskante van haar liggaam opgemerk. Die stene weeg saam 70 kg.
Die groter steen was op haar regterarm en die ander bebloede steen op haar linkerskouer naby haar kop. Sy het geen skoene aangehad nie en haar onderlyf was kaal. Sy is wreed verkrag en haar maag en bobene is deur die son gebrand.
Haar identiteit was in daardie stadium nog onbekend en sy is eers dae later deur haar familie, op 21 November, uitgeken.
Videobeeldmateriaal
Videobeeldmateriaal wat destyds deur die polisie bekom is, wys hoe twee vroue, met 'n onbekende man agter hulle, Club Nitro omstreeks 01:05 op Vrydagoggend, 15 November, binnegaan.
Die man het 'n swart pet op sy kop gehad en was geklee in 'n beige baadjie en broek, 'n rooi T-hemp en bruin enkelhoogte stewels. Een van die vroue is later uitgeken as Matroos. Sy het dieselfde klere aangehad by die nagklub as waarin sy gevind is.
LEES MEER: Man vas vir wrede moord
Volgens Boezak se getuienis kon op die beeldmateriaal gesien word hoe die onbekende man 'n paar keer saam met Matroos tot by die uitgang van Nitro loop, maar dat sy dan omdraai en teruggaan klub toe.
Later word gesien hoe hulle die klub saam verlaat en in 'n voertuig klim saam met twee ander mans. Die bewegende voertuig, 'n rooi VW Golf 4, word later op beeldmateriaal in Markstraat gesien in die rigting van Hopestraat.
'n Getuie, Henzel Davids, wat glo die beskuldigde omstreeks 05:00 Vrydagoggend (15 November) tussen Le Vallia en CTM langs Knysnaweg raakgeloop het, het verlede week getuig dat Muller daardie oggend bruin Grasshopper-stewels, 'n rooi hemp en 'n beigekleurige langbroek aangehad het.
Matroos se liggaam is die daaropvolgende Sondag in die veld tussen Knysnaweg en die perdryklub gevind.
Vorige getuienis
Op Maandag 8 November het Sefaans Juries van Rosemoor getuig dat hy saam met sy neef se seun, die beskuldigde en 'n onbekende meisie op Donderdagaand, 14 November, by Nitro in die middedorp was.
Op pad huis toe, vroeg die volgende oggend, het Juries die voertuig naby Busy Corner in Rosemoor gestop om 'n draai te loop.
Toe hy terugkom het al drie sy passasiers ook buite die voertuig gestaan.
LEES MEER: Moordverdagte sê nee vir borgtog
Volgens hom het die beskuldigde gesê hy sal self by die huis kom en hy en die onbekende meisie het agtergebly. Vandaar is Juries en sy neef se seun glo huis toe.
Juries het aan die hof vertel dat die beskuldigde die daaropvolgende Maandag by hom was en vir hom gesê het dat die meisie, wat saam met hom was, met twee ander mans in 'n voertuig met 'n CF-registrasie geklim het en dat 'n vrou se liggaam naby Kraaibosch gevind is.
Die hof het gehoor dat Muller met sy inhegtenisname nie ontken het dat hy die betrokke aand by Nitro was nie, maar dat hy glo te dronk was om die gebeure van die aand te onthou.
Muller het nie 'n borgtogaansoek gebring nie en is sedert sy inhegtenisneming in aanhouding.
Die saak dien voor regter Elize Steyn en advokaat Evadné Kortjé is vir die staat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'