Update
GEORGE NUUS - Die polisie het 'n deurbraak gemaak in die wreedaardige moord op 'n jong ma van Pacaltsdorp wie se liggaam Sondagoggend 17 November langs 'n boom in 'n veld tussen die George Riding Club en Knysnaweg gevind is.
Die inhegtenisname volg nadat kringtelevisie-beeldmateriaal bekom is.
Die verdagte (38) van Rosemoor is Sondag 24 November in hegtenis geneem in verband met die moord op Bianca Matroos (26) van New Dawnpark, 'n ma van twee jong kinders.
Volgens George-polisie se kommunikasie-beampte, kapt. Nolonwabo Tshengu, is Matroos na bewering verkrag en wreed vermoor.
Tshengu kon teen druktyd nie bevestig waar die beeldmateriaal vandaan kom nie.
Volgens onbevestigde inligting was Matroos die Vrydagaand saam met vriende by 'n nagklub in Pacaltsdorp en daarna na 'n klub in die middedorp. Sy is daarna nie weer gesien nie.
Haar lyk is die Sondagoggend deur verbygangers in die veld by die perdryklub gevind.
Die area in die George Riding Club waar Bianca Matroos se liggaam gevind is.
Matroos het geen verbintenis met die perdryklub gehad nie.
Matroos se familie, wat nou Kersfees sonder haar sal moet deurbring, kon teen druktyd nog nie begrafnisreëlings bevestig nie.
Hulle was ook nie bereid om enige kommentaar te lewer nie en het gesê hulle sal die George Herald op 'n latere stadium kontak.
Die verdagte het Dinsdag 26 November in die George-landdroshof verskyn waar die saak tot 3 Desember vir 'n borgtogaansoek uitgestel is. Hy bly in aanhouding.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'