Update
GEORGE NUUS - 'n Yslike bedrag van R30 000 borgtog en streng borgtogvoorwaardes is waarop die vermeende dwelmsmokkelaar, Sylvester Pretorius (37), op Dinsdag 23 Junie vrygelaat is.
Pretorius is Vrydagaand, 12 Junie, by sy huis in Kingstraat, Parkdene, in hegtenis geneem nadat die polisie op dagga, tik en Mandrax met 'n straatwaarde van meer as R255 000 en 'n aansienlike bedrag kontant, beslag gelê het.
Hy het Maandag 15 Junie sy eerste verskyning in die Thembalethu-landdroshof gemaak waar die saak vir twee dae uitgestel is vir sy formele borgtogaansoek. Die staat het egter sy borgtog teengestaan waarna hy Dinsdagoggend verskyn het en op borgtog vrygelaat is.
Pretorius moet weer op 22 September in die hof verskyn wanneer die uitslae van die laboratorium moontlik bekend sal wees.
Sou hy intussen van enige misdryf aangekla word, word sy borgtog teruggetrek. Pretorius word deur Winston Jansen van Winston Jansen Prokureurs verteenwoordig. Desiree Padayachi is vir die staat en die saak dien voor landdros Nelson Maluadsi.
Tik, Mandrax en dagga is gekonfiskeer.
Vorige artikel: Groot dwelmslag geslaan
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'