GEORGE NUUS - In twee afsonderlike voorvalle het spanpogings deur verskeie polisie-afdelings verlede week daartoe gelei dat dwelms met 'n geraamde straatwaarde van sowat R755 000 in George gekonfiskeer is.
Op Vrydagaand, 12 Junie, is 'n vermeende dwelmsmokkelaar (37) en 'n jong vrou (21) by die man se huis in Kingstraat, Parkdene, in hegtenis geneem nadat die polisie op dagga, tik en Mandrax met 'n straatwaarde van meer as R255 000 en 'n aansienlike bedrag kontant, beslag gelê het.
Die verdagte, Sylvester Pretorius, het Maandag 15 Junie sy eerste verskyning in die Thembalethu-landroshof gemaak. Die saak is tot gister, Woensdag 17 Junie vir sy borgtogaansoek uitgestel.
Die staat het egter sy borgtog teengestaan en hy moet weer op 23 Junie in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding. Die saak teen die vrou is teruggetrek en teen druktyd kon redes daarvoor nog nie bevestig word nie.
Volgens Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, volg die deurbraak op 'n reeks geheime operasies by dié vermeende dwelmhuis in Kingstraat.
"Lede van die provinsiale speurdiens se georganiseerde misdaad, narkotiese afdeling op George het gereageer op inligting wat van die publiek ontvang is. Dit het Vrydagaand se arrestasies tot gevolg gehad nadat 'n lasbrief by die hof verkry is," het Pojie gesê.
Tik, Mandrax en dagga is gekonfiskeer.
Man vas vir half miljoen se dagga
In nog 'n voorval het lede van George se eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad, die Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops), misdaadintelligensie, die K-9-eenheid en ander lede verbonde aan die Eden-gebiedskantoor se misdaadvoorkomingseenheid 'n 28-jarige verdagte Donderdag 11 Junie in hegtenis geneem op aanklagte van onder andere dwelmhandel.
Volgens die woordvoerder van die Valke, luitenant-kolonel Philani Nkwalase, volg dit ná 'n besending dagga met 'n beraamde straatwaarde van sowat R500 000 in die man se besit gevind is. Die besending was onderweg vanaf die Oos-Kaap na George toe die verdagte voertuig in Wilderness raakgesien is.
"Die polisie het hom agterna gesit waarna die bestuurder tydens die jaagtog uit die motor gespring het. Die motor het die pad verlaat en die passasier het agtergebly. Dié het ligte beserings opgedoen."
Die bestuurder kon daarin slaag om weg te kom.
Die passasier is vir mediese behandeling na George-hospitaal geneem en was geskeduleer om Maandag in die George-landdroshof te verskyn. Die saak teen hom is egter voorlopig teruggetrek hangende 'n forensiese ondersoek.
Die Mandrax-tablette wat in die huis in Parkdene gevind is.
'n Groot bedrag kontant is ook Vrydagaand in Parkdene gekonfiskeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'