GEORGE NUUS - 'n Aanduiding oor wie George se nuwe burgemeester gaan wees, kan moontlik reeds môre (Vrydag 8 Mei) verkry word.
Die DA, wat in beheer is van die stadsraad, se onderhoude vir die pos het vandag (Donderdag) begin en word môreoggend voortgesit.
'n Aankondiging oor die DA-kandidaat kan reeds môreaand gedoen word. As dit gebeur, sal die betrokkene waarskynlik die nuwe burgemeester wees omdat die DA 'n volstrekte meerderheid in die raad het.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het vanmiddag (Donderdag) gesê die onderhoude is aanlyn gevoer met kandidate. Dit was die eerste keer dat dat so-iets in die DA vir so 'n pos gedoen is.
Altesaam vyf onderhoude is afgehandel en nog twee sal Vrydag gedoen word.
Die paneel het bestaan uit vyf verteenwoordigers van die oosstreek, vyf van die provinsiale uitvoerende komitee en 10 van die federale uitvoerende raad.
As die paneel môre na die onderhoude gemaklik is met die kandidaat wat die hoogste punte behaal het sal hy/sy naam bekend gemaak word. Die persoon sal dan die DA-kandidaat wees. As die paneel nie gemaklik is nie, mag die proses weer oopgegooi word
Londt het benadruk dat die betrokkene die DA-kandidaat sal wees. Dit is net 'n stadsraad wat 'n burgemeester kan kies. 'n Stadsraadvergadering sal gevolglik gehou moet word.
Londt het gesê dit is ’n interne partyproses en die DA maak nie die kandidate se name vooraf bekend nie. (Die kandidate wat deelneem aan die proses om die DA-burgemeesterskandidaat te wees).
Volgens Londt was die DA Donderdag geseënd want geen tegnologiese goggas het dinge bemoeilik nie.
Tot 'n nuwe burgemeester gekies is neem die onderburgemeester, Charlotte Clarke, steeds waar as burgemeester.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'