Update
GEORGE NUUS - Sowat 35 plaaswerkers is verlede Woensdagaand in 'n ongeluk op die Geelhoutboom-pad beseer nadat die vragmotor waarop hulle vervoer is, omgeslaan het.
Die ongeluk het omstreeks 18:00 plaasgevind na 'n vragmotor, met sowat 70 plaaswerkers van Van Greunen-boerdery agterop, die pad verlaat het in 'n poging om 'n botsing reg van voor met 'n Volkswagen-nutsvoertuig te vermy. Die werkers was onderweg huistoe.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die bestuurder van die Volkswagen, wat van die aarbeiplaas se kant gekom het, deur die son verblind en het sy in die aankomende vragmotor se baan beland en reguit op dit afgepyl.
Die vragmotorbestuurder het uitgeswaai, maar die voertuie het mekaar met die sykant getref en beide het omgeslaan.
Wat sê die padverkeerswet oor die vervoer van plaaswerkers?
Om plaaswerkers op 'n vragmotor of 'n bakkie te vervoer is nie teen die wet nie, mits die voertuig aan die padverkeerswet se vereistes voldoen.
Die George-gemeenskap het na die ongeluk uitgevaar op sosiale media. Baie lesers wou weet of dit wettig is om plaaswerkers op hierdie wyse te vervoer.
Ander wou weet of die vragmotor nie oorlaai was nie.
Ingevolge Regulasie 247 van die Nasionale Padverkeerswet is dit nie onwettig om mense in die goedere afdeling van 'n motorvoertuig te vervoer solank dit voldoen aan die vereistes van genoemde regulasie nie.
Volgens een van die plaaseienaars, Christie van Greunen, was die 10-ton-vragmotor definitief nie oorlaai nie.
"Daar was omtrent 70 mense op die trok en die wet werk op 'n gemiddelde van 68 kg per persoon," het hy gesê.
Die gewig van die mense op die vragmotor was ongeveer 4,7 ton.
"Ons het baie mense wat vir ons werk en dit is maar die manier hoe ons nog altyd die mense vervoer het. Ons sal definitief in die nabye toekoms kyk na alternatiewe vervoer.
"Dis 'n baie ongelukkige situasie, maar daar is mediese voorsiening vir almal gemaak. Ons is dankbaar dat daar min ernstige beserings was en niemand oorlede is nie. Ons fokus tans om almal te versorg," het hy gesê.
Al die werkers wat in die ongeluk betrokke was, is sedertdien uit die hospitaal ontslaan.
Volgens Van Greunen is sowat 95% van die werkers reeds terug by die werk. Die res sterk by die huis aan.
Die vragmotor het op sy sy langs die pad te lande gekom.
Vereistes om mense op 'n voertuig te vervoer:
- Die bestuurder van die voertuig moet 'n geldige rybewys hê;
- Die voertuig moet in 'n veilige en padwaardige toestand wees;
- Die voertuig moet geregistreer en gelisensieer wees;
- Die lisensie sal die omstandighede aandui waaronder 'n plaaswerker op 'n bakkie / vragmotor vervoer kan word;
- Die deel van die voertuig waarin die werkers vervoer word, moet tot 'n hoogte van minstens 350 mm bo die oppervlak waarop die werkers sit en ten minste 900 mm bo die oppervlak waarop die mense staan, toe wees;
- Die materiaal moet sterk genoeg wees om te verhoed dat 'n werker van die voertuig af val;
- Die werkers mag nie saam met ander goedere, buiten persoonlike besittings, vervoer word nie, tensy dit afgeskort is van die passasiers;
- Die hoeveelheid passasiers wat op 'n voertuig toegelaat word, word beperk deur die maksimum gewig wat die voertuig kan dra soos aangedui deur die vervaardiger van die voertuig;
- Geen deel van die werker se lyf mag by die voertuig uitsteek nie;
- 'n Sleepwa se ligte moet werk en sewe weerkaatsers hê;
Wanneer 'n werkgewer vervoer aan plaaswerkers voorsien, moet die minimum standaarde van die nasionale verkeerswet nagekom word.
As die voertuig 'n openbare pad betree, geld die reëls van die pad.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL EN FOTO'S: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'