Update
GEORGE NUUS - Na talle motorongelukke op die Outeniquapas dié jaar, het die pas Vrydagaand, 30 Maart sy eerste lewe, dié van 'n 57-jarige vrou, in nog 'n ongeluk geëis.
Die George Herald het hierdie jaar reeds oor meer as 10 ongelukke op die pas berig waarin motoriste beseer is.
'n Noue ontkoming was Rachel Swartbooi van Dysselsdorp egter nie beskore nie. Sy was een van 10 mense op pad na 'n familiebyeenkoms in George oor die Paasnaweek toe die ongeluk omstreeks 20:40 plaasgevind het. Volgens die George-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Mike Opperman, het die 26-jarige bestuurder van die wit Nissan Hardbody waarin hulle gery het, in reënerige toestande beheer oor die voertuig om 'n draai verloor waarna die voertuig teen die berg vasgery en omgeval het.
Swartbooi se man, July (60), was ook in die ongeluk betrokke. Hy en die bestuurder van die voertuig het ernstige nek-, rug- en kopbeserings opgedoen en albei sal in alle waarskynlikheid binnekort na 'n Kaapse hospitaal oorgeplaas word.
Teen druktyd was een van die insittendes, 'n tienermeisie, steeds in die George-hospitaal se hoësorgeenheid, vyf in die algemene saal en drie ontslaan. Swartbooi word deur haar man, haar broer en suster, asook drie kinders oorleef. Die begrafnis sal waarskynlik volgende Saterdag 14 April, in Dysselsdorp plaasvind, maar die reëlings is nog nie gefinaliseer nie.
Op 'n navraag of meer en verbeterde padtekens 'n verskil aan die ongeluksyfer op die pas sal maak, het die woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke, Byron la Hoe, gesê dat padtekens slegs verbeter kan word mits bestaande tekens nie doeltreffend is nie. "Daar moet eers vasgestel word of daar spesifieke 'probleemdraaie' is, en dan sal die sukses van die verbeterde tekens afhang of motoriste daarop gaan ag slaan of nie."
N2-botsing
'n Man (50) van Pacaltsdorp is Sondagaand, 1 April in hegtenis geneem na 'n motorongeluk op die N2 agter Rosedale.
Sy voertuig, 'n Opel Monza, het sonder ligte in die linkerbaan van die pad gestaan toe 'n provinsiale verkeersmotor hom tref.
Volgens Pacaltsdorp-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Shadelle Fisher, was die bestuurder van die Opel onder die invloed van alkohol en kon nie verder bestuur nie.
"Die verkeersvoertuig, wat uit die rigting van Thembalethu na Pacaltsdorp gery het, kon nie na die regterbaan beweeg nie, omdat daar 'n bus in daardie baan was," het sy gesê.
Niemand is beseer nie. Die bestuurder van die Opel is op aanklag van dronkbestuur en roekeloos en/of nalatige bestuur in hegtenis geneem. Hy is vrygelaat op 'n waarskuwing en moet op 18 April in die George-landdroshof verskyn.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'