GEORGE NUUS - Wêreldselfdoodvoorkomingsdag word op 10 September herdenk - 'n dag wat die fokus plaas op die belangrikheid daarvan om raak te sien wanneer iemand sukkel en om betyds hulp te kry.
Volgens Human Coetsee, 'n berader by Famsa George, is een van die belangrikste boodskappe rondom selfdoodvoorkoming eenvoudig: selfdood kan voorkom word, maar mense moet bereid wees om die tekens raak te sien en die gesprek te begin.
Coetsee bespreek gedurende September die onderwerp van selfdood en selfdood-voorkoming kort ná 09:00 op Eden FM se Donderdagoggend-program.
Een van die grootste uitdagings is dat mense wat emosioneel swaarkry nie altyd direk sê dat hulle aan selfdood dink nie. Daar kan egter veranderinge in gedrag wees wat familie en vriende behoort raak te sien.
Waarskuwingstekens kan insluit dat iemand hom of haar van familie en vriende onttrek, belangstelling in werk of stokperdjies verloor, anders begin slaap of eet, sukkel om te konsentreer, meer alkohol of dwelms gebruik of roekelose gedrag toon.
Uitsprake soos "ek is net 'n las" of ander woorde wat op hopeloosheid dui, moet ernstig opgeneem word.
Coetsee waarsku ook oor 'n moontlike skielike kalmte by iemand wat vir 'n geruime tyd baie depressief was. Hoewel dit maklik as 'n teken van verbetering beskou kan word, kan dit soms beteken dat die persoon reeds 'n besluit geneem het.
Om iemand opreg te vra of hulle daaraan dink om hul lewe te beëindig kan 'n deur oopmaak vir 'n belangrike gesprek. Foto's: Michelle Pienaar
Moenie bang wees om te vra nie
Wat moet 'n mens doen as jy bekommerd is oor iemand? Vra direk. Om iemand opreg te vra of hulle daaraan dink om hul lewe te beëindig kan 'n deur oopmaak vir 'n belangrike gesprek.
Die belangrikste is om kalm te bly, nie te oordeel of te preek nie, en eerder te luister as om dadelik raad te probeer gee.
Die persoon moet, waar moontlik, gehelp word om professionele ondersteuning te kry. Indien iemand in onmiddellike gevaar is, moet die persoon nie alleen gelaat word nie en moet dringende hulp ontbied word.
Tieners is onder druk
Coetsee se gesprekke fokus ook op tieners, wat toenemend aan 'n kombinasie van akademiese druk, sport- en groepsdruk, gesinsprobleme en die voortdurende invloed van sosiale media en kuberafknouery blootgestel word.
Vir ouers is een van die belangrikste boodskappe om nooit 'n tiener se emosionele pyn te verkleineer nie. Luister eers, eerder as om onmiddellik oplossings te probeer bied.
Vriende het ook 'n belangrike rol. Wanneer 'n vriend praat oor selfdood of dreig om sy of haar lewe te beëindig, moet dit nie as 'n geheim gehou word nie. 'n Volwassene, onderwyser of skoolberader moet daarvan vertel word.
Sosiale media behoort ook met omsigtigheid gebruik te word. 'n Jongmens se waarde word nie deur die aantal likes of volgelinge bepaal nie.
Sterk gesinsverhoudings, genoeg slaap, fisieke aktiwiteit en 'n ondersteunende gemeenskap kan help om emosionele veerkragtigheid te versterk.
Noodnommers
- Suicide Crisis Helpline (Sadag): 0800 567 567
- Stop Women Abuse Helpline: 0800 150 150
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’