GEORGE NUUS - Die SA for Hope nie-winsgewende organisasie reël 'n hulpverspreidingsdag vir Saterdag 14 Junie vir die boeregemeenskappe van Noorsveld wat die afgelope agt jaar al ’n meedoënlose droogte ervaar.
Die Noorsveld sluit in Jansenville, Klipplaat, Kleinpoort en Waterford.
Pieter du Plessis, 'n direkteur van SA for Hope, doen 'n beroep op die publiek vir ondersteuning in die vorm van kospakkies vir gesinne, dierevoer om die oorblywende vee van hongerdood te red, en skoon gebottelde water.
“Gewasse in Noorsveld het misluk, weiding het verdor en gesinne wat al vir generasies op hierdie grond boer, staar nou die moeilikste tyd van hul lewens in die gesig," sê Du Plessis.
"Drie weke gelede het 21mm reën geval - die eerste meetbare reën in drie jaar - maar die skade kan nie in 'n enkele reënbui herstel nie."
Hy sê die damme is leeg en boere se diere vrek.
“Gesinne het honger. Kinders gaan slaap sonder genoeg kos, en ouers moet onmoontlike finansiële keuses maak. Die boere en hul werkers het onmiddellike hulp nodig en SA for Hope doen ’n dringende beroep op die publiek om hul harte en hande oop te maak.”
Geen bydrae is te klein nie. Geldelike skenkings, ’n sak mieliemeel, ’n baal hooi, of ’n enkele bottel water sal help.
Mense kan ook as vrywilligers help met verpakking, vervoer of verspreiding van hulpvoorraad.
Persone wat wil hand bysit, kan Pieter du Plessis kontak by 076 844 6435 of saforhope@gmail.com.
Noorsveld is in die greep van langdurige droogte.
We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’