GEORGE VERKIESING NUUS - Met minder as 'n week oor voor die verkiesing aanstaande Woensdag, werp verteenwoordigers van politieke partye alles in die stryd om nog vir oulaas kiesers se koppe te probeer draai. Algemeen word aanvaar dat die ANC op nasionale vlak na 8 Mei steeds die septer gaan swaai, maar of een party in die Wes-Kaap 'n volstrekte meerderheid gaan behaal, bly 'n ope vraag.
Darryl Sauer van die ANC in George het gesê die party se veldtog het goed verloop. Die ANC verwag dat hy goed sal doen in die Wes-Kaap.
Die politiek in die Wes-Kaap is baie vloeibaar. Volgens hom doen Good en PBI bo verwagting goed in gebiede waar die DA gewoonlik sterk staan.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê die party sluit sy veldtog eers aanstaande Woensdag die aand om 21:00 af wanneer die stembusse sluit. Die veldtog gaan voort.
Kiesers moet gaan stem. In die 2016 munisipale verkiesing het die DA in 'n wyk in Bitou 23 te min stemme gekry om te wen en so beheer oor die stadsraad verloor.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê die party sluit sy verkiesingsveldtog in die streek vanaand (Donderdagaand) in Pacaltsdorp-gemeenskapsaal af met 'n saamtrek waar Peter Marais die hoofspreker is. Die vergadering begin om 18:00.
Die VF Plus is realisties en alle aanduidings is dat die DA se steun tot onder 50% gaan daal. Die party sal in so 'n geval bereid wees om in 'n koalisie met die DA te gaan.
In ACDP-geledere word ook nog stemme gewerf. Volgens Johan du Toit van die ACDP sluit die party sy verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap Sondag in die Kaapstad-stadion af.
Die party stel nie in koalisies belang nie, maar sal bereid wees, indien nodig, om met partye saam te werk wat dieselfde oogmerke het.
Virgill Gericke van die PBI het gesê nog vergaderings word gehou, plakkate word opgesit en verkiesingsmateriaal versprei. Sy waarneming is dat daar 'n aptyt by kiesers is vir verandering.
Bazil Petrus van Good het gesê die fokus is op persoonlike kontak met kiesers. Good fokus ook op kiesers wat die eerste keer gaan stem en kiesers wat ongelukkig is. Volgens hom kom die DA-kiesers sommer vanself na Good. Mercia Draghoender se aansluiting by Good het gehelp.
Brendan Adams van Icosa het gesê sigbaarheid word gehandhaaf en so byvoorbeeld gaan motoroptogte in dorpe gehou word.
"Ons hoop vir die beste op 8 Mei en hoop om minstens een setel in die parlement en een in die Wes-Kaapse wetgewer te kry."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'