Video
GEORGE VERKIESINGNUUS EN VIDEO - Die ACDP se premierskandidaat in die Wes-Kaap, Ferlon Christians, beskou dit as 'n uitgemaakte saak dat hy na 8 Mei sy intrek in Leeuwenhof, die premierswoning gaan maak. Christians, tans 'n lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, het George Maandag besoek om te kyk hoe vorder die ACDP se verkiesingsveldtog in die gebied.
Christians het tydens 'n nuuskonferensie benadruk hy wil nie arrogant klink nie, maar hy is oortuig die ACDP gaan 'n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap behaal.
Op vrae oor koalisies en met wie die party na die verkiesing in die Wes-Kaap sal saamwerk, het hy geantwoord dit gaan nie nodig wees om koalisies te vorm nie. "Ons syfers wys ons gaan die meerderheid kry in die Wes-Kaap."
Oor koalisies en samewerking op nasionale vlak het hy alle navrae na die party se nasionale leierskap verwys.
Christians het gesê hy beskou homself nie as "premier elect" nie, maar 'n "premier in waiting".
Kyk 'n video hieronder:
Volgens hom het hy in die afgelope 25 jaar nog nooit soveel belangstelling in die ACDP gesien nie. In 1994 het mense vir verandering gestem en 10 jaar gelede het hulle in die Wes-Kaap vir die DA gestem. Volgens Christians redeneer van die kiesers dat hulle 'n fout gemaak het om vir die ANC en die DA te stem. Hulle het vertrou op die vlees en God uit die politiek gelos. "Mense van alle rasse sê ons moet God terugbring om ons land en die Wes-Kaap te red."
Die party glo dat die beste persoon vir 'n pos oorweeg moet word. Daar moet nie na iemand se velkleur gekyk word nie
Die ACDP se premierskandidaat in die Wes-Kaap, Ferlon Christians.
Foto: Eugene Gunning
Wat die ACDP betref is die einde van die ANC in sig. "Ons sal baie verbaas wees as die ANC na 15 jaar nog bestaan."
Volgens hom is daar ook nie-Christene wat die party steun en voor stem. Onder hulle is ook Moslems. Dit gaan vir mense oor 'n waardesisteem.
Die ACDP beskou die DA as sy grootste teenstander in die Wes-Kaap. "Die ANC en die EFF is nie 'n faktor nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'