Update
GEORGE NUUS - Die drie mans, wat van die moord op Kehanno Noordman (20) van Pacaltsdorp aangekla word, is vanoggend, Donderdag 4 Junie, in die George-landdroshof op borgtog met streng borgtogvoorwaardes, vrygelaat.
Was dit nie vir die feit dat Noordman ook aan meningitis gely het nie, kon die uitspraak moontlik anders gewees het.
Vroeëre inligting het aangedui dat twee volwasse mans, Breyton-John McCullum (18) en Marshaan Claasen (21), asook ’n minderjarige, in verband met Noordman se moord aangekeer is.
Dit het egter tydens die borgtogaansoek vanoggend aan die lig gekom dat die derde verdagte, Lethan May, 19 jaar oud is.
Al drie word van moord met gemeenskaplike opset aangekla nadat hulle Noordman glo op Saterdag 25 April by ’n nagklub met onder meer ’n kapmes en ’n gholfstok aangeval het.
Noordman is die volgende dag, Sondag 26 April, in die hospitaal oorlede
McCullum en Claasen is op 27 April in hegtenis geneem, terwyl May op 20 Mei aangekeer is. Al drie word van ’n skedule 6-misdaad aangekla, wat beteken het dat hulle buitengewone omstandighede moes bewys om op borgtog vrygelaat te word.
Geen van die beskuldigdes het vorige veroordelings, hangende sake of uitstaande lasbriewe teen hulle nie.
Die individuele faktore mag dalk nie bepalend wees nie, maar alle faktore saam bring teweeg buitengewone omstandighede.
Staat staan borgtog teen
Die staat het borgtog teengestaan op grond daarvan dat die beskuldigdes ’n gevaar vir die gemeenskap inhou, dat die wapens wat hulle na bewering gebruik het, daarop dui dat hulle Noordman met opset vermoor het, en dat daar dreigemente teen hul lewens deur die oorledene se familie en vriende gemaak is.
Die alternatiewe adresse wat voorgestel is, bied volgens die staat ook nie veel beskerming nie, aangesien twee van die beskuldigdes steeds in Pacaltsdorp skoolgaan.
Die staat het verder aangevoer dat die beskuldigdes met getuies sou inmeng en die verloop van die saak kon belemmer.
Daar is ook melding gemaak van moontlike vergeldingsoptrede deur bendes. Die staat kon egter nie bewyse lewer dat dié gronde bestaan nie.
Wie’s jou ouma?
Dit het ook aan die lig gekom dat ’n vrou, wat beweer het sy is McCullum se ouma, ’n verklaring teen sy borgtogaansoek ingedien het. Daar is egter bevind dat die vrou nie familie van McCullum is nie. Sy staar nou moontlik ’n aanklag van meineed in die gesig.
’n Petisie teen die beskuldigdes se vrylating op borgtog is ook deur die staat ingedien. Die hof het egter bevind dat die petisie nie aan die vereistes voldoen nie.
Die verdediging het ook beswaar gemaak teen die inhandiging van die petisie aangesien dit gebrekkig is.
Uitspraak
Die landdros het tydens haar uitspraak gesê sy is nie daarvan oortuig dat die feit dat McCullum en May, wat albei matriekleerders aan Hoërskool Pacaltsdorp is, se skoolloopbane ontwrig sou word, buitengewone omstandighede daarstel nie.
Sy was ook nie van mening dat Claasen se werk, waarmee hy sy ouers ondersteun, as buitengewone omstandighede beskou kan word nie.
Sy het egter daarop gewys dat die nadoodse verslag, wat deur die staat op rekord geplaas is, aangedui het dat die oorledene nie net veelvuldige steekwonde opgedoen het nie, maar ook aan meningitis gely het.
Die patoloog kon gevolglik nie met sekerheid bepaal wat die presiese oorsaak van Noordman se dood was nie.
Die landdros het ook gesê die feit dat die oorledene aan meningitis gely het, laat vrae ontstaan en dat daar nie sekerheid bestaan oor wat presies sy dood veroorsaak het nie.
“Ek verklein geensins die tragedie nie, maar dit is nie hierdie hof se taak om die beskuldigdes skuldig te bevind of aannames te maak nie. Hul skuld of onskuld sal tydens die verhoor bepaal word,” het sy gesê.
Sy het verder gesê dat sy in twee gedagtes was oor die borgtogaansoek en dat selfs al was die petisie wat ingedien is aanvaarbaar, dit nie haar beslissing sou beïnvloed het nie.
“As die beskuldigdes skuldig bevind word, sal hulle hul straf ontvang.”
McCullum is op borgtog van R2 000 vrygelaat, terwyl Claasen en May elk op borgtog van R1 000 vrygelaat is. Al drie moet ook aan streng borgtogvoorwaardes voldoen.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’