Update
GEORGE NUUS - Drie verdagtes, twee mans Breyton-John McCullum (18) en Marshaan Claasen (21) asook ’n 17-jarige seun wat in verband met die moord op Kehanno Noordman (20) in Pacaltsdorp aangekeer is, sal op 4 Junie weer in die George-landdroshof verskyn vir hul borgtogaansoek.
Die saak is uitgestel nadat nuwe inligting in die ondersoek aan die lig gekom het. ’n Alternatiewe adres vir een van die beskuldigdes moet ook bevestig word.
Noordman is Sondag 26 April in die hospitaal oorlede nadat hy ’n steekwond agter ’n hoërskool in Beachweg opgedoen het. Hy is na die hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.
Twee verdagtes is kort ná die voorval in hegtenis geneem, terwyl ’n derde persoon later ook in verband met die saak aangekeer is.
Die staat beweer dat al drie beskuldigdes met ’n gemeenskaplike doel opgetree het om Noordman te vermoor.
Die borgtogaansoeke word as ’n bylae ses-aansoek hanteer, wat beteken die beskuldigdes moet buitengewone omstandighede bewys om op borgtog vrygelaat te word.
Winston Jansen verteenwoordig al drie die beskuldigdes.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’