GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie het ’n moorddossier geopen nadat ’n jong man die afgelope naweek doodgesteek is. Verskeie ander, afsonderlike voorvalle waar persone aangerand is, is ook aangemeld, maar dis op die stadium onduidelik of al die voorvalle by die polisie aangemeld is.
Kehanno Noordman (20) is laat Saterdagaand, 25 April, aan die agterkant van die plaaslike hoërskool in Beachweg gesteek.
Hy is na die hospitaal geneem, waar hy gistermiddag aan sy wonde beswyk het.
Twee persone, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, is vanoggend, Maandag 27 April, in verband met die moord aangekeer.
Ao. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die arrestasies bevestig en gesê beskikbare inligting oor die voorval is skraps en die moontlike motief nog onbekend.
“Die polisie is na die hospitaal ontbied, maar met hul aankoms was die oorledene reeds dood verklaar. Die oorledene het vermoedelik die steekwond opgedoen tydens ’n konfrontasie met ’n groep mense aan die agterkant van Hoërskool Pacaltsdorp,” sê Spies.
Intussen het Charly Daman, voorsitter van die gemeenskapsorganisasie Pacaltsdorp Mans- en Vrouegroep, sy kommer uitgespreek oor die voorvalle in Pacaltsdorp die afgelope langnaweek.
“Vandag vier ons Vryheidsdag, maar ons is nie vry van misdaad nie; ons is nie veilig nie. Ons innige meegevoel aan die familie van die oorledene. Een moord is een te veel.”
Daman meen die polisie kan meer doen. “Pacaltsdorp het ná byna 16 maande steeds nie ’n gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) nie. Dit is iets wat onmiddellik reggestel moet word sodat misdaad doeltreffend bekamp kan word.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’