GEORGE NUUS - Die verhoor waarin drie broers van Parkdene vir die moord van Ruduwaan Damons (25) aangekla word, het Donderdag 14 Maart in die Thembalethu-streekhof begin.
Tot dusver het twee ooggetuies getuig en hulle verskillende weergawes van gebeure vertel soos wat hulle dit onthou.
Die saak is uitgestel tot 23 April vir die verhoor om voort te gaan.
Percival Dickens (28), Sylvester (39) en Jason Pretorius (36), wat vroeg in Januarie 2023 in verband met Damons se moord vasgetrek is, is sedert hulle inhegtenisneming in aanhouding.
Slegs die twee Pretoriusse het borgtog-aansoeke gebring. Hul borgtog is formeel geweier.
Met die polisie se aankoms op die toneel in Golfstraat, Parkdene, is die oorledene met steekwonde aan sy bors gevind. Dit was skuins ná 13:00.
Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die drie verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle word almal aangekla van moord met voorbedagte rade.
Die voorval spruit glo uit 'n bakleiery tussen Dickens en die oorledene, waarna die ander twee broers ook betrokke geraak het. Die oorledene, Damons, se minderjarige kind se ma, was Dickens se vriendin ten tyde van die voorval.
Damons is op die toneel oorlede.
Dickens en Jason het die toneel verlaat. Sylvester het die mes gebreek en hom op 'n drom gelos. Dickens het homself kort ná die voorval aan die polisie oorhandig en sy twee broers is ongeveer 'n halfuur later in hegtenis geneem.
Die broers ontken dat hulle bedoel het om Damons dood te maak. Volgens Dickens het Damons 'n mes in sy besit gehad en moes hy tydens die struweling per ongeluk raak gesteek gewees het.
Vorige veroordelings
Dickens en Sylvester het ook 'n string vorige veroordelings en hangende sake teen hulle.
Dit sluit onder andere aanranding, diefstal, verskeie sake van dwelmhandel, besit van onwettige ammunisie, poging tot moord en die besit van 'n onwettige vuurwapen in.
Die saak dien voor landdros Eugenia Jacobs, Brandon Smith is vir die staat en die beskuldigdes word deur Winston Jansen verteenwoordig.
Jansen is genader, maar wil in hierdie stadium nie enige kommentaar lewer nie.
Vorige artikels:
- Slotbetoë in moordsaak môre aangehoor
- Broers se borgtog-lot volgende week in George aangehoor
- Broers se borgtog gaan Maart voort
- Borgtogaansoek uitgestel weens beurtkrag
- Drie broers vas vir moord in Parkdene
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’