Update
GEORGE NUUS - Slotbetoë in die borgtogaansoek van die drie broers van Parkdene, wat van die moord van Ruduwaan Damons (25) aangekla word, sal môre, Vrydag 24 Maart, in die George-landdroshof gehoor word.
Percival Dickens (27), Sylvester (38) en Jason Pretorius (35), wat vroeg in Januarie in verband met Damons se moord vasgetrek is, is in aanhouding sedert hulle inhegtenisname.
Slegs die twee Pretoriusse het borgtogaansoeke gebring. Die staat het borgtog teengestaan.
Met die polisie se aankoms op die toneel in Golfstraat, Parkdene, is die oorledene met verskeie steekwonde aan sy bors gevind. Dit was skuins ná 13:00.
Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die drie verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle word almal aangekla van moord met voorbedagte rade.
Sylvester Pretorius se verklaring is deur sy regsverteenwoordiger, Winston Jansen van Jansen & Samson Attorneys, op rekord ingelees.
Daarna het hy self agter die getuiebank ingeskuif. Sy broer het verkies dat slegs sy verklaring op rekord ingelees word en het nie self getuig nie.
Advokaat MP Heyns is vir die staat en die saak dien voor landdros Thiloshnie Govender.
Ondersoekbeampte se getuienis
In sy verklaring, wat op rekord ingelees is, het die ondersoekbeampte, ao. JC Roux gesê hy ken die drie broers sedert 2000, en is reeds besig met ander ondersoeke waaraan hulle verbind word.
Volgens Roux se verklaring is Damons se minderjarige kind se ma, Dickens se huidige vriendin. Damons was 'n Rastafariër wat glo dwelms van sy huis af verkoop het, maar volgens inligting uit die gemeenskap, was hy baie geliefd.
Die verklaring lui dat Sylvester oor die algemeen as 'n dwelmhandelaar in die gebied gesien word en deur sy broers bygestaan word.
Op die dag van Damons se moord het daar glo 'n bakleiery ontstaan toe Damons met Dickens oor sy vriendin en haar beweerde dwelmprobleem gaan gesels het. Dickens was glo ontsteld en het gesê hy gaan sy broer (Sylvester) haal. Damons het teruggekeer na sy eie woning.
Later die middag het die drie broers by die oorledene se huis aangekom waarna nóg 'n bakleiery ontstaan het.
Ooggetuies het aan die ondersoekbeampte vertel dat die twee Pretoriusse die oorledene vasgehou het terwyl Dickens hom herhaal-delik met 'n mes gesteek het.
Damons is op die toneel voor sy minderjarige kind oorlede. Dickens en Jason het die toneel verlaat. Sylvester het die mes gebreek en hom op 'n drom gelos. Dickens het homself kort ná die voorval aan die polisie oorhandig en sy twee broers is ongeveer 'n halfuur later in hegtenis geneem.
Vorige veroordelings
Al drie die broers het 'n string vorige veroordelings en hangende sake teen hulle. Dit sluit onder andere aanranding, diefstal, verskeie sake van dwelmhandel, besit van onwettige ammunisie, poging tot moord en die besit van 'n onwettige vuurwapen in.
Hulle is ook al in die verlede van verskeie ander ernstige misdade verdink en dat hulle klaers en ooggetuies omkoop om sake teen hulle te onttrek. Beide, Dickens en Sylvester, het hangende sake. Die derde broer, Jason Pretorius, het geen hangende sake nie, maar wel vorige veroordelings wat meer as 10 jaar oud is.
"Ons is steeds optimisties. Daar is geen risiko faktore met betrekking tot beskuldigde drie [Jason Pretorius] nie. Ons kon alreeds gedurende die borgtogaansoek wys dat die staat probleme gaan hê op verhoor volgens hoe die voorval plaas gevind het," het Jansen gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'