Update
GEORGE NEWS - Percival Dickens (28), Sylvester Pretorius (39) en Jason Pretorius (36) is vanoggend in die Thembalethu-streekhof lank tronk toe gestuur vir die moord op Ruduwaan Damons (25) in 2023.
Hartseertonele het onder familielede van die broers van Parkdene afgespeel toe Percival 25 jaar direkte gevangenisstraf opgelê is en Sylvester en Jason 20 jaar direkte gevangenisstraf elk. Hulle is op 22 Oktober 2024 skuldig bevind.
Streeklanddros Eugenia Jacobs het tydens vonnisopgelegging gesê die hof betoon die drie broers van Parkdene vandag genade nadat genoeg wesenlike en dwingende omstandige gevind is om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf. "Tog regverdig die misdryf 'n lang vonnis," het Jacobs gesê.
Sy het bygevoeg die broers het 'n gemeenskaplike doel gehad toe hulle Ruduwaan vermoor het.
"Julle het iemand se lewe geneem. Hy was 'n jong man, pa en broer. Julle het hom geken. Geen vonnis wat die hof vandag oplê gaan hom terugbring nie. Elkeen van julle het 'n rol gespeel in sy dood. Beskuldige nommer 1 was die hoofrolspeler en het die doodskoot gesteek. Julle ander was ook betrokke."
Jacobs het bygevoeg dat "alles verhoed kon word" as Percival eerder na die polisie gegaan het om die aanranding, wat die moord voorafgegaan het, aan te meld, eerder as om sy twee broers te betrek.
Die beskuldiges het 14 dae om te teen hulle skuldigbevinding en vonnis appelleer.
Brandon Smith het vir die staat verskyn.
Agtergrond van moordsaak
Die voorval spruit glo uit 'n bakleiery tussen Percival en Ruduwaan waarna die ander twee broers ook betrokke geraak het. Ruduwaan het ook glo vroeër die dag vir Percival met 'n panga gedreig.
Met die polisie se aankoms op die toneel in Golfstraat, is Ruduwaan met steekwonde aan sy bors gevind. Dit was skuins ná 13:00. Die drie broers is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Vorige artikels:
- Broers se uitspraak uitgestel
- 3 broers se uitspraak in September
- Slotbetoeë in moord-saak dié maand
- Broers van Parkdene op verhoor vir moord
- Slotbetoë in moordsaak môre aangehoor
- Broers se borgtog-lot volgende week in George aangehoor
- Broers se borgtog gaan Maart voort
- Borgtogaansoek uitgestel weens beurtkrag
- Drie broers vas vir moord in Parkdene
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’