GEORGE NUUS - Die drie broers van Parkdene, wat aangekla word van die moord op die 25-jarige Ruduwaan Damons, sal op Donderdag 5 September hul lot hoor wanneer streeklanddros Eugenia Jacobs uitspraak lewer.
Slotbetoë deur die staat, wat deur Brandon Smith verteenwoordig word, en die verdediging, Winston Jansen, is op Donderdag 18 Julie in die Thembalethu-streekhof gelewer.
Percival Dickens (28), Sylvester (39) en Jason Pretorius (36) staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade ná Damons in Januarie verlede jaar in Parkdene vermoor is.
Al drie broers is sedert hulle inhegtenisneming in aanhouding.
Die voorval spruit glo uit 'n bakleiery tussen Dickens en die oorledene waarna die ander twee broers ook betrokke geraak het. Damons het ook glo vroeër die dag vir Dickens met 'n panga gedreig.
Met die polisie se aankoms op die toneel in Golfstraat, is die oorledene met steekwonde aan sy bors gevind. Dit was skuins ná 13:00. Die drie verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die broers het van meet af aan ontken dat hulle beplan het om Damons dood te maak.
Volgens Dickens het Damons 'n mes in sy besit gehad en is hy waarskynlik tydens die struweling per ongeluk raakgesteek.
Tydens slotbetoë het Smith gesê die beskuldigdes was nie goeie getuies in die hof nie en dat hulle verskillende weergawes van gebeure deurspek was met teenstrydighede.
Hy het voet by stuk gehou dat hulle getuienis oneerlik en ongeloofwaardig was.
Rakende die ooggetuies se verklarings en weergawes in die hof, het hy gesê die hof moet onthou dat dit 'n baie traumatiese ervaring was wat meer as 'n jaar gelede plaasgevind het, en verklarings in Afrikaans is deur 'n isiXhosa-sprekende offisier geneem.
Jansen het tydens sy slotbetoë gesê dat die twee ooggetuies wat vir die staat getuig het, volgens hom nie eerlike getuienis gelewer het nie en dat die staat nie daarin kon slaag om moord met voorbedagte rade te bewys nie. Hy het gesê dat daar baie teenstrydighede in die staat se getuienis was en hulle nie bewyse kon bring wat sy kliënte bo redelike twyfel skuldig kan bevind nie.
Volgens Jansen het die staatsgetuies hulself op alle aspekte weerspreek. Ook hulle weergawes oor hoe die oorledene na bewering vasgehou is, het verskil.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’