Update
GEORGE NUUS - Die verhoor van drie broers, Percival Dickens (28), Sylvester (39) en Jason Pretorius (36) wat daarvan aangekla word dat hulle die 25-jarige Ruduwaan Damons in Parkdene in Januarie 2023 vermoor het, is Donderdag 27 Junie in die Thembalethu-streekhof voortgesit.
Die verdediging het hul saak gesluit ná al drie broers in hul eie verdediging getuig het en hul weergawes voor die hof geplaas het.
Die staat het vroeër twee getuies geroep. Die saak is uitgestel tot Donderdag 18 Julie vir slotbetoë.
Slegs die twee Pretorius-broers het destyds borgtogaansoeke gebring. Hul borgtog is egter geweier.
Al drie broers is dus sedert hulle inhegtenisneming in aanhouding.
Met die polisie se aankoms op die toneel in Golfstraat, Parkdene, is die oorledene met steekwonde aan sy bors gevind. Dit was skuins ná 13:00.
Die drie verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle word almal aangekla van moord met voorbedagte rade.
Die voorval spruit glo uit 'n bakleiery tussen Dickens en die oorledene, waarna die ander twee broers ook betrokke geraak het. Die oorledene se minderjarige kind se ma, was Dickens se vriendin ten tyde van die voorval.
Die broers ontken dat hulle bedoel het om Damons dood te maak.
Volgens Dickens het Damons 'n mes in sy besit gehad en is hy waarskynlik tydens die struweling per ongeluk raakgesteek.
Die saak dien voor landdros Eugenia Jacobs, Brandon Smith is vir die staat en die beskuldigdes word deur Winston Jansen verteenwoordig.
Jansen is genader, maar wil in hierdie stadium nie enige kommentaar lewer nie.
Vorige artikels:
- Broers van Parkdene op verhoor vir moord
- Slotbetoë in moordsaak môre aangehoor
- Broers se borgtog-lot volgende week in George aangehoor
- Broers se borgtog gaan Maart voort
- Borgtogaansoek uitgestel weens beurtkrag
- Drie broers vas vir moord in Parkdene
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’