LANDBOU NUUS - Die George-landbouskou bied vanjaar vir die derde jaar die Agri-werkers 2019-kompetisie in die Eden-distrik aan.
Vandat die kompetisie in 2002 die eerste keer in die Hexriviervallei aangebied is, word dit gekenmerk as 'n belangrike geleentheid vir die plaaseienaars sowel as die Agri-werkers.
Elke plaaseienaar skryf sy 'beste werker' in en die onderskeie deelnemers kan in verskillende afdelings deelneem. Die doel van die kompetisie is om Agri-werkers te motiveer en erkenning te gee vir hul harde werk, en sodoende hul kennis en vaardighede te verbeter.
Die kategorieë bestaan uit: algemene werker, trekkerdrywer, administratiewe personeel, diereproduksie, tegniese operateur, besproeiingspesialis, junior bestuur, middelbestuur en sosiale ontwikkeling.
Daar is vanjaar 76 inskrywings uit 13 plase in die Eden-distrik en dit oortref die rekords van die vorige jare.
Verlede jaar se algemene Agri-werker, Isaac Ntoto uit Eden-distrik, het die jaar sy gewig ingooi om te help met die evaluering van die werkers.
Christo Fourie, visepresident van George-landbouskou, en ook die koördineerder van die kompetisie het 'n span van vyf beoordelaars waarvan Corné Botha, president van George-landbouskou ook sy gewig ingooi om te verseker die beoordelaars is wel voltallig.
Die kompetisie is deel van George-landbouskou se visie om terug te gee aan die landbou en die Agri-werkers.
Met elke Agri-werker wat beoordeel word, word daar net weer besef watter groot rol die werker in die landboubedryf speel. Die werker wat vandag lande voorberei, môre plant, natmaak, spuit en oes se hande en kennis op sy/haar gebied maak dit sigbaar op ons tafels van suiwel tot vleis.
Wilma Rademan van 'Click on It' het in samewerking met Jimmy Farnhan van Arena Pump die voertuig en brandstof-borg beding.
George-landbouskou bied die kompetisie aan en bedank die volgende borge: Wes-Kaapse departement van landbou, Shoprite, Cell C en Arena Pumps.
Die George-landbouskou vind vanjaar plaas van 29 tot 31 Augustus.
Agri-Manne-oggend
George-landbouskou, in samewerking met Absa, nooi alle mans na 'n manne-oggend op 29 Augustus om 08:00 in die Agri-Exposaal. Dit sluit in 'n heerlike ontbyt en koffie/sap en toegang tot die dag se skou teen R150 per persoon of besighede kan 'n tafel teen R1 500 bespreek. Die gasspreker is Wessel Lemmer, senior Absa-landbou-ekonoom. Om 10:00 gaan die Wes-Kaapse minister van landbou die George-landbouskou amptelik open.
Daar gaan ook gelukstrekkings wees onder andere twee geleenthede vir diepseevisvang ter waarde R1 200 en nog meer.
Besprekings is noodsaaklik aangesien net 200 plekke beskikbaar is. Skakel Christo Fourie by 079 285 0337 of die skoukantoor 044 873 4165.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'