LANDBOU NUUS - In ’n tyd van ongekende globale en plaaslike onsekerheid is georganiseerde landbou nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid vir oorlewing.
Dit was die kernboodskap van Villiers Loubser, president van Agri Wes-Kaap, tydens die organisasie se jaarlikse streekkongres wat op 9 April by die Kansa Krale buite Oudtshoorn plaasgevind het.
Onder die tema, Standvastig in ’n veranderende omgewing, het Loubser ’n saal vol boere, bedryfsleiers en belanghebbendes toegespreek oor die uitdagings wat die sektor in die gesig staar.
Strategiese pilare vir groei
Volgens Loubser verander die landbou-omgewing teen ’n tempo wat konstante aanpassing vereis.
Hy het rolspelers bedank vir hul bywoning en ondersteuning en beklemtoon dat Agri Wes-Kaap se strategie op drie kernpilare rus:
- Voedselsekerheid: Om te verseker dat die nasionale mandjie vol bly te midde van klimaatsuitdagings.
- Werkskepping: As een van die grootste werkgewers in die platteland bly landbou die lewensaar van talle gemeenskappe, met goeie verhoudinge tussen werkgewers en werkers as sleutel.
- Ekonomiese groei: Die bevordering van volhoubare waarde en toegang binne die waardeketting.
Kritiek en konstruktiewe gesprek met die staat
Een van die brandpunte van sy toespraak was Agri Wes-Kaap se verhouding met die regering, ’n kwessie waaroor die organisasie dikwels kritiek uit eie geledere ontvang.
“Ons word dikwels gekritiseer oor ons verhouding met die staat, maar in die huidige klimaat is ’n funksionele werksverhouding ononderhandelbaar,” het hy gesê.
Hy het egter beklemtoon dat dié verhouding nie stilswyende instemming beteken nie.
“Om saam aan tafel te sit, beteken nie dat ons met alles saamstem nie. Dit beteken dat ons mekaar se rolle verstaan en mekaar verantwoordbaar hou om oplossings te vind wat die boer op grondvlak bevoordeel.”
’n Roep om eenheid
Loubser het ook ’n ernstige beroep op landbouers gedoen om nie in isolasie te werk nie en beklemtoon dat die “stem van landbou” slegs krag het wanneer dit verenig is.
Hy het alle rolspelers aangemoedig om deel te word van formele gesprekke en hul kundigheid te deel om dringende uitdagings in die streek aan te spreek.
“Landbou is die fondament van ons daaglikse bestaan. As die gesprek ophou, stop die vordering. Ons moet nie net probleme uitwys nie, maar ook die pad vorentoe help aandui,” het hy afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’