Update
GEORGE NUUS - Die leier van 'n politieke party op die dorp bevraagteken George-munisipaliteit se optrede verlede week toe varkhokke van Pacaltsdorpse kleinboere deur beamptes van wetstoepassing afgebreek is.
Virgill Gericke, president van die PBI (Plaaslike Besorgde Inwoners) en 'n raadslid van die George-raad, het in 'n brief aan George Herald uitgevaar oor die manier waarop die aksie uitgevoer is. Lees die brief en volledige antwoord van die munisipale bestuurder.
Van die boere boer reeds 12 jaar op die grond tussen Delvillepark en Europe. Na die boere kennisgewings van die uitsetting ontvang het, het hulle vinnig probeer planne maak om hul varke óf onder markprys te verkoop, of te skuif na ander plekke. Die boere het regshulp ingewin om hulle met hul stryd om grond te help. Hulle was nie vandeesweek beskikbaar vir kommentaar oor die vordering van hul saak nie.
"Die PBI is gegrief deur die sterkman taktiek van die DA-beheerde George-munisipaliteit, met die gewelddadige verwydering van arm, bruin, eerlike en opregte kleinboere in Delvillepark, Pacaltsdorp verlede week," lees Gericke se skrywe. "Die feite is onbetwisbaar dat van hierdie boere reeds baie jare besig is om daar te boer en 'n eerlike bestaan te maak."
Gericke skryf verder dat dit "op rekord is" dat die voormalige wyksraadslid, Henry Jones, ook die destydse
DA-portefeuljeraadslid vir behuising, aan hierdie kleinboere toestemming verleen het om daar te boer en 'n bestaan te maak. Jones het die terrein verlede week tydens die uitsetting besoek.
"Op daardie stadium in die vorige termyn, het hy sy party, die DA, sowel as die George-stadsraad en amptenare dienooreenkomstig ingelig. Niemand het enige probleem daarmee gehad nie en dis hoekom die kleinboere onverstoord voort geboer het."
Gericke het aan die George Herald gesê dat Steven Erasmus destyds die direkteur van behuising en beplanning was. "Dit is dus ironies dat hy nou teen sy destydse besluite optree." Gericke beweer die varkboere het wettig op die grond geboer.
PBI-raadslid Virgill Gericke. Foto's: Michelle Pienaar
Die munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by navraag gereageer dat slegs die raad in terme van wetgewing goedkeuring mag verleen vir die aanwending van grond in sy besit.
"Dit sou dus onwettig wees indien enige persoon, sonder die nodige raadsgoedkeuring grond soos beweer, na wille keur sou 'uitdeel'," het hy gesê.
Botha stel die volgende vraag: "Wie se regte weeg die swaarste? Dié van die onwettige okkupeerders of dié van wetsgehoorsame belastingbetalers en hul kinders wie aan haglike omstandighede blootgestel word?"
Hy het gesê daar rus 'n wetlike verpligting op plaaslike owerhede om te verseker dat inwoners nie aan gesondheidsgevare blootgestel word nie. Ondanks 'n bewering dat daar verlede week sekere beloftes aan die boere gemaak is, wat hulle glo meer tyd sou gee om hul diere te skuif, het onderburgemeester Charlotte Clarke, intussen bevestig dat daar geen vergadering tussen haarself, raadslede en afgevaardigdes van die kleinboere plaasgevind het nie.
Lees 'n vorige artikel | Uitsetting : Varkboere verslae
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'