PBI-president Virgill Gericke:
Die PBI is gegrief deur die sterkman taktiek van die DA beheerde George-munisipaliteit, met die gewelddadige verwydering van arm, bruin, eerlike en opregte kleinboere in Delvillepark Pacaltsdorp, verlede week.
Die feite is onbetwisbaar dat van hierdie boere reeds baie jare besig is om daar te boer en 'n eerlike bestaan te maak.
Dit is ook op rekord dat voormalige raadslid Jones, destydse DA-portfolioraadslid vir behuising, hierdie kleinboere toestemming verleen het om daar te boer en 'n bestaan te maak.
Hierdie toestemming het hy verleen op 'n amptelike grondslag, vanweë sy posisie as portfolioraadslid.
Op daardie stadium in die vorige termyn, het hy sy party, die DA, sowel as die George-stadsraad en amptenare dienooreenkomstig ingelig.
Niemand het enige probleem daarmee gehad nie en dis hoekom die kleinboere onverstoord voort geboer het.
Die PBI stel op rekord dat Jones in sy amptelike hoedanigheid opgetree het, en gevolglik n funksionaris van die George-raad was. Derhalwe was die varkboere dus wettig op die grond.
Dit is dus die submissie van die PBI dat, as die munisipaliteit hierdie varkboere wou verwyder, hulle eers 'n regsproses moes volg ten einde die boere te verwyder.
Ons argument is gebaseer op die grondwetlike beginsels van gelykheid voor die reg, administratiewe geregtigheid (hulle was slegs 'n paar dae gegee) en die audi alterum partem reël (om die anderkant te hoor).
Al hierdie grondwetlike beginsels is geïgnoreer om sekere mense tevrede te stel en 'n bepaalde politieke uitkoms te bewerkstellig.
Die munisipale ordinansie wat die departement nou so ewe skielik implementeer, het verval in die geval van die varkboere, nadat voormalige raadslid Jones amptelike toestemming verleen het.
Die PBI daag die departement uit om die ordinansie (by law) te alle tye en in alle gebiede uit te voer.
In arm gebiede van George, word die oproepe van inwoners totaal geïgnoreer wanneer hulle die munisipaliteit versoek om onwettige diere te verwyder en boerdery aktiwiteite te stop.
Dieselfde direkteur wat nou so haastig is om die wet te implementeer, het in die vorige termyn gefaal om 'n totaal onwettige gebou in Victoriabaai te sloop, wat sonder planne gebou was.
Die PBI ondersteun die inwoners van Devillepark heelhartig in hul reg tot 'n veilige en skoon omgewing. Ons is self ernstig bekommerd oor die wetteloosheid en die weiering van wetstoepassingsagentskappe om daadwerklik op te tree.
Ons bevraagteken egter die boelietaktiek van die munisipaliteit teenoor arm gemeenskappe en die ondermyning van hul grondwetlike regte. Die teenoorgestelde is waar. Wanneer gegoede gemeenskappe kla, word daar inderhaas opgetree en wette word verontagsaam om politieke munt te slaan.
Die PBI veroordeel die dubbelsinnige optrede van die DA regering en vra dat daadwerklik ingegryp word om die varkboere op 'n wettige manier te akkommodeer. Hierdie boere het eweneens die reg tot 'n eerlike bestaan en dis die raad se plig om ook hul regte te beskerm. Hulle het egter baie skade gely as gevolg van die optrede van amptenare.
Ons doen terselfdertyd ook 'n beroep op die Suid-Afrikaanse polisie om nie net blindelings te spring as die munisipaliteit roep nie. Dis die plig van die polisie om hulself te vergewis of die prosesse wettig is al dan nie. Die PBI oorweeg verdere optrede om die boere by te staan.
Munisipale Bestuurder, Trevor Botha:
Slegs die Raad mag in terme van wetgewing goedkeuring verleen vir die aanwending van grond in sy besit. Dit sou dus onwettig wees indien enige persoon, sonder die nodige Raadsgoedkeuring grond soos beweer, na wille keur sou "uitdeel". Die vraag wat egter gevra moet word is "Wie se regte weeg die swaarste? Dié van die onwettige okkupeerders of dié van wetsgehoorsame belasting betalers en hul kinders wie aan haglike omstandighede blootgestel word? Daar is 'n wetlike verpligting op plaaslike owerhede om te verseker dat inwoners nie aan gesondheidsgevare blootgestel word nie.
Dit is baie moeilik om te begryp waarom die klaer ter velde trek omdat daar kwansuis nie deur "wetstoepassingsagente" opgetree word nie en in dieselfde asem briesend is wanneer amptenare wel hul pligte in belang van die publiek uitvoer. Die munisipale administrasie kan ongelukkig nie kommentaar lewer op die ander ongegronde stellings en die onbillike aanvalle op die SAPD nie. Wetteloosheid kan eenvoudig nie ten koste van onskuldige gemeenskappe toegelaat word nie.