GEORGE NUUS - Die onafhanklike Suid-Afrikaanse rolprent Kyk My In My Oë maak volgende week sy opwagting in George as deel van 'n landwye toer wat onafhanklike rolprentkuns na kleiner gemeenskappe bring.
Die film is geskryf, vervaardig en geregisseer deur die opkomende filmmaker Christian Schoeman en het 'n besondere George-verbintenis.
Dit word vertoon by die George Arts Theatre op Woensdag 10 Junie om (19:00). Kaartjies kos R90 en is beskikbaar by webtickets.
Schoeman sê sy tyd by die George-gebaseerde produksiemaatskappy Garden Route Media het hom die ervaring en selfvertroue gegee om sy debuutrolprent aan te pak.
"Dit is waar ek my klankmenger en kleurgradering-kunstenaar, Rhowan 'Snow' du Preez, en Jacques Coetzee ontmoet het. Sonder hulle sou die film heel anders gelyk en geklink het," sê hy.
Kyk My In My Oë vertel die verhaal van Andrew, 'n jong outistiese man wat na Kaapstad reis om sy vervreemde pa te ontmoet. Terwyl hy by sy neef Riaan woon, word albei gedwing om onverwerkte trauma en persoonlike uitdagings in die gesig te staar.
Volgens Schoeman poog die film om 'n outistiese hoofkarakter op 'n eerlike en waardige manier uit te beeld, met fokus op sy talente, tekortkominge en die uitdagings van 'n wêreld wat hom nie altyd verstaan nie.
Christian Schoeman en Charlene Wolmarans van Op My Eish by die premiere van Kyk My In My Oë, in Kaapstad.
Die rolverdeling sluit Albert Maritz, Anya Human, Hein Poole en Rikus Terblanche in. 'n Vraag-en-antwoordsessie met die regisseur volg ná die vertoning.
Die film het 'n ouderdomsbeperking van 13 jaar en ouer. Hoewel daar geen eksplisiete inhoud is nie, handel dit oor emosioneel komplekse temas wat gesprek en nadenke aanmoedig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’