VERMAAKLIKHEIDSNUUS - Die huwelik met al sy lief en leed was die afgelope week die middelpunt van twee gewilde produksies wat vol gehore na die George-kunsteteater gelok het.
Die een was in Engels, die ander in Afrikaans, maar albei het 'n tema gehad waarmee getroudes én ongetroudes hulle kon vereenselwig.
In Hey Hey Divorcé (21-23 Oktober) het Schalk Bezuidenhout die gehoor behoorlik laat skaterlag met sy humoristiese aanslag op verhoudings, die huwelik en egskeiding.
Een teaterganger wat die vertoning saam met haar boekklubvriendinne bygewoon het, het agterna vertel dat hulle lanklaas só lekker gelag het.
Aan die Afrikaanse kant (24-25 Oktober) het Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck in Eerste vir alles die gehoor op 'n reis deur die ingewikkelde wêreld van die huwelik geneem. Met skerp dialoog, humor en oomblikke van herkenning is die alledaagse werklikhede van saamleef op die verhoog uitgebeeld.
Vir menige getroude paartjie was daar waarskynlik meer as een ongemaklik bekende oomblik. Ek het self dié produksie saam met my man gaan kyk, en kan darem met verligting sê dat ons ná die tyd steeds hande vasgehou het.
Adam, Eva en die huwelik, met Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck in Eerste vir alles. Foto: Michelle Pienaar
Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck in Eerste vir alles, Saterdag 24 Oktober by die George-kunsteteater. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’