Vermoorde dogtertjie (5) was half naak

Klein Natalie Baartman se liggaam word tussen die plakkershuise gedra deur lede van George patologie

GEORGE NUUSFLITS & VIDEO - Misdaadtoneelondersoekers is steeds op die toneel in Syferfontein, Pacaltsdorp waar die half naakte liggaam van die 5-jarige Natalie Baartman vroeg vanmiddag (13 Februarie) in ‘n oop veld gevind is.

Natalie is Saterdagaand 18:00 laas lewend gesien, maar is eers vanoggend kort na 11:00 deur haar ma as vermis aangemeld. Die polisie het onmiddellik ‘n soekspan uitgestuur waarna haar liggaam 10 minute later deur ‘n lid van die Pacaltsdorp-polisie gevind is.
 
Haar onderlyf was kaal en sy het ‘n oop wond aan haar kop gehad. Die slagoffer se 9-jarige suster het na bewering in die rigting van die toneel gewys op ‘n vraag oor waar sy haar suster laas lewend gesien het.

Forensiese deskundiges, lede van die honde-eenheid en speurders is reeds sedert 12:00 op die toneel. Generaal-majoor Oswald Reddy het ook die toneel besoek.

Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sê hulle het ‘n moorddossier vir verdere ondersoek geopen. Die ondersoekbeampte, ao. William van Schalkwyk word bygestaan deur ondersoekers van die gesinsgeweld kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid.

Pojie het ook bevestig dat hulle die moontlikheid ondersoek dat Natalie verkrag is.

Op ‘n vraag oor hoekom die ouers so lank gewag het om haar as vermis aan te meld aangesien sy al sedert Saterdag vermis word, het Pojie gesê, “na gelang van die ondersoek sal die polisie vasstel of die ouers nalatig was”.

Enigiemand met inligting oor die moord word versoek om ao. Van Schalkwyk te skakel by 044 803 9130.
 
Kyk na 'n video hieronder:
 
 
 
Forensiese deskundiges stel 'n kamera op om lugfotos van die toneel te neem.
 
 
Majoor generaal Oswald Reddy en brigadier Cetyana kom op die toneel aan Natalie Baartman se lyk is onder die boom links gevind.
 
 
 
Meer inligting volg soos dit bekend word. 
 
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR
 
FOTO'S: BRüMILDA SWARTBOO, GEORGE HERALD-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald