Stalletjies vou sambrele toe

Vakansiegangers staan nader vir 'n roomys by een van die stalletjies wat in Desember by Victoriabaai besigheid gedoen het.

GEORGE NUUS - 'n Roomysverkoper van Victoriabaai moes sy stalletjie toemaak op Nuwejaarsdag in opdrag van die munisipale wetstoepassingsafdeling.
 
Met voorraad van R30 000 vir die res van die seisoen beplan Randall Geduld om nou maar sy lekkernye met 'n fiets en klokkie in die strate te smous.
 
Geduld en twee ander verkopers het hul sambrele op Kersdag toegevou nadat wetstoepassingsbeamptes rooi kleefband om hul stalletjies gedraai het. Ofskoon die verkopers in vorige jare met sukses vir hierdie staanplek getender het, was daar vanjaar slegs 'n mondelingse ooreenkoms met die George-munisipaliteit en strek dit van maand tot maand.
 
Geduld is ongelukkig omdat verkopers in Heroldsbaai en Leentjiesklip blykbaar nie dieselfde behandel word nie. Hulle dryf steeds handel in eetgoed by hierdie strande.
 
"Ek het Kersdag ná wetstoepassing se besoek dadelik die burgemeester, Melvin Naik, gebel. Hy het gesê hy gaan kyk wat hy kan doen," het Geduld gesê.
 
"Die volgende dag het wetstoepassing laat weet ons kan maar weer staan, maar net tot Nuwejaar. Ons het nou opgepak, maar die ander ouens het nie kennis gekry nie."
 
Volgens Geduld het die bestuurder van die restaurant by Victoriabaai, Vikki's at the Beach, vir hulle opdraende gegee. Hy voer aan dat sy druk uitgeoefen het om hulle besigheid te stop. Die bestuurder, Michelle Calitz, het by navraag bevestig dat sy nie in beginsel ontevrede is met die stalletjies nie, maar met die manier waarop die hele storie hanteer is.
 
"Ek het R199 000 bestee op opknappingswerk en 'n roomysmasjien. As ek geweet het daar gaan roomys en tjips verkoop word, het ek nie hierdie uitgawes aangegaan nie," het Calitz gesê. Volgens Calitz het die George-munisipaliteit haar in Oktober die versekering gegee dat daar nie stalletjies gaan wees nie.
 
"My gevoel is indien daar stalletjies is, laat hulle ander goed verkoop as wat ons aanbied. Ons betaal baie huur dwarsdeur die jaar. Ons het maar slegs agt goeie dae in hierdie feestyd gehad. Dit gaan 'n moeilike winter wees."
 
George-munisipaliteit se kommentaar oor waarom 'n tender vir die staanplekke nie vanjaar geadverteer is nie, en waarom die ander stalletjies steeds hul eetgoed by Leentjiesklip en Heroldsbaai mag verkoop, word verwag.
 
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald