George-inwoner sterf by Buffalo Rally

Die rooi Ford Laser waarteen De Swardt se motorfiets gebots het.

GEORGE NUUSFLITS - Die bestuurder van Pomodoro-restaurant in Wilderness het verlede Saterdag in 'n motorfietsongeluk tydens 'n plesierrit in Mosselbaai gesterf.
 
Die oorledene, Braam de Swardt (42) van George, was 'n besoeker aan die Buffalo Rally wat verlede naweek in Mosselbaai gehou is.
 
Jaco Carsten (21) van Kuilsrivier, 'n medebesoeker aan die saamtrek, het saam met De Swardt 'n entjie op sy motorfiets gaan ry toe hulle teen die agterkant van 'n Ford Laser gebots het.
 
Die ongeluk het omstreeks 16:00 verlede Saterdag in Louis Fourieweg naby Asla Park plaasgevind, sowat 500 meter van die Danabaai-verkeersligte. Beide De Swardt en sy passasier is in die Mosselbaai provinsiale hospitaal opgeneem. De Swardt het in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Sy passasier, Carsten, was Maandag steeds in die hospitaal en sou gister 'n skoueroperasie in George ondergaan, soos vroeër die week beplan is.
 
Volgens inligting van die polisie by KwaNonqaba was die Ford Laser besig om regs te draai in Crotzstraat, KwaNonqaba, toe die motorfiets teen die voertuig se linker-agterkant gebots het. Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag, het die ondersoekbeampte sers. Vusumzi Ndala, gesê.
 
 
Braam de Swardt. 
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald