Skrikkeldag is om die draai. Waarom bestaan Skrikkeldag? Ek was ook nie heeltemal seker nie.
My informante (die internet) sê dat dit iets te doen het met die sinkronisasie van die kalenderjaar en astronomiese jaar.
Kom ons mors nou nie tyd met groot woorde nie. Die punt is, ons gaan 'n hele ekstra dag tot ons beskikking hê. Al daai kere wat jy gewens het vir meer ure in jou dag? Dis hier! Astroloë glo dat mense wat op 29 Februarie gebore is ongewone talente het.
Frikkie, Monica en Hilary op bladsy vier moet asseblief die koerant skakel en laat weet wat dié talente is.
In Ierland vier sommige vroue Leap Year deur die groot vraag aan hul kêrels te vra (dis nou om te trou, nie of hy 'n hond of kat-mens is nie).
Ek weet dit net want een van my drie talente is dat ek Leap Year die fliek se woorde uit my kop uit ken. Dis nie juis Oscar-winning nie, net al DVD wat ek op universiteit gehad het.
Die Grieke trou nou weer nie in Skrikkeljaar nie, want hulle glo dat die huwelik gedoem sal wees. Ek is enige jaar afgeskrik van trou - duisende rande en al wat jy kry is iemand om 'n badkamer mee te deel? Nee dankie.
En wat gaan ek maak met my ekstra 24-uur Saterdag? Tyd bestee aan my ander twee talente: slaap en Netflix. Waarom my tyd so mors?
Die Russe glo dat meer fratsongelukke en erge weertoestande op dié dag voorkom, en wie is ek nou om met die Russe te stry?