Die Amerikaners, te danke aan Bing Crosby, sing mos altyd dat hulle droom van 'n wit Kersfees. Eerlikwaar het ek nog nooit verstaan hoekom jy sal wil koud kry in die feestyd nie. Hiér vier ons mos 'n helder somerkersfees.
Wie wil nou 'n sneeuman bou en warmsjokelade drink as jy kan waatlemoen eet en op die strand baljaar? Volg asseblief net Baz Luhrmann se raad en sit sonskerm aan. Vergeet van die man in rooi op 'n slee, in Suid-Afrika dra hy plakkies en woon op Jeffreysbaai.
Of is dit Clocolan? In die plek van sneeubedekte dennebome het ons spekbome in oorvloed, en já, dis okei om braaivleis saam met jou trifle poeding te eet.
Ek het besef dis Desember (waarheen is die tyd?) toe ek 'n trok op die hoofweg teëkom wat met Kersliggies versier is. Die drywer vervoer bale voer, seker as geskenk vir die boere in ons droë distrik.
Vanjaar is reën boaan ons almal se wenslysies.
Vandeesweek het belowende wolke oor Graaff-Reinet saamgetrek, maar hiervan het net so 'n paar druppels gekom. Hulle voorspel reën vir die naweek - kom ons hoop die weerman is reg en dat die druppels dié keer nie so skaam is nie.
Tweede op ons Kerslys is Nqwebadam wat oorloop, met genoeg water om tot by die verste Umasizakhe-huis uit te kom.
Ja, ou Bing, hou jy maar jou wit Kersfees. Hier, in die Karoo, droom ons van 'n groen feesseisoen.