Dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie. Inteendeel, ek wou niks van die affêre weet nie. Die gewag, die ongeskiktheid en oef, daai reuk. Maar my ID is al weg nog voordat ek die werksmag betree het (so jonk, so uitgerus), so dit was hoogtyd om maar op die afspraak te gaan.
Om binnelandse sake toe te gaan is soos om 'n pasmaat tydens die pandemie te soek. Jy's nie regtig lus nie, maar wat as jy alleen dood gaan en jou sake is nie in orde nie? En kyk, dis nou nie my eerste rodeo nie. In Kempton Park was die aansig ook ietwat onaantreklik, but beggers can't be choosers.
Verlede week Vrydag pak ek toe maar die tog aan na Graaff-Reinet se binnelandse sake toe. Masker aan, sanitizer in my sak, peuselhappies en 'n boek vir die gewag. Ek opdateer ook my testament, ingeval ek nie lewendig uit die storie uit kom nie.
Die kat gaan aan my pa en die plante aan my ma. Sorry, sibbe, daarna is daar nie regtig iets van waarde oor nie. Daar is wel nog bietjie beskuit in die bak, enjoy.
Na wat voel soos 40 dae se gestap na die beloofde land, swaai die deure na binnelandse sake oop. Néé, dit kan nie wees nie, bedrieg my oë my? Het ek dalk sonsteek? Die plek is grafstil en die mense wat wel daar is sit netjies in rye.
"Goeiemôre, waarmee help ons?" vra 'n wag by die deur. "Er, ID," stotter ek. Ek's so verbaas dat ek skaars gepraat kry. Diens? By binnelandse sake? "Nuut of verlore?" vra die vrou dan. "Wie ek? Wel, ek's al so jaar in die dorp en voel nie meer verlore nie, en jy?" Sy kyk stip na my, seker bekommerd dat sy President Cyril se Skerpioene gaan moet inroep vir die mal vrou by haar toonbank. Die president hang hoeka daar teen die muur, saam met ander belangrike mense. "O, die boekie is verlore."
Sy verwys my na 'n ander vrou se toonbank, en die is net so vriendelik. Kiekies word geneem, en tjoef-tjaf is die hele storie verby. Hulle sal 'n SMS stuur wanneer die ID-kaart gereed is.
En nou? Wat maak ek met die drie ure wat ek uitgesit het vir hierdie hele proses? Die afspraak was so lekker ek wil nie groet nie, en lyk my ook nie die ander binnelandse sake-gangers wat gesels nie.
"Gaan dit goed met die kinders?" vra een tannie vir die ander. "Goed ja, en met daai heup van jou?" By 'n ander toonbank sien 'n vrou dat 'n oom nie regkom nie. "Wat is die probleem, Oupa?" "Hulle sê ek kort 'n selfoonnommer maar ek het nie 'n foon nie," antwoord hy. "Vat my nommer, ek weet waar Oupa bly, ek sal laat weet as hulle Oupa soek," sê die vrou dan. Is hierdie binnelandse sake dalk in 'n parallelle heelal?
Nee, kyk! Sê van 'n klein dorpie wat jy wil: hiér is die affairs by home affairs die tipe om op trots te wees.