"Is jy werklik gelukkig?" wil 'n glans vrouetydskrif vandeesmaand weet. "Ja." "Wat maak jou gelukkig?" "Poeding."
Is dit 'n geldige antwoord? Nee. Is dit die waarheid? Beslis. Néé dieetkundiges, die rooi ligte wat julle sien flikker is vals. Los my en my poeding asseblief tog net uit.
Ekstra suiker-sonde skud ek graag Saterdae by die plaaslike parkrun af. Ek vra asseblief dat die organiseerders van dié uitmergelende roete sal ophou om my aksiefoto op Facebook as die Graaff-Reinet Advertiser te tag. Lesers, ek belowe ons nuus is vinniger as wat ek daar verskyn.
'n Ander vrouetydskrif spog die maand met 'n 'plus-grootte' model op hul voorblad. Ek sê dit in aanhalingstekens, want as sy groot is wil ek nie weet wat klein is nie.
Balans, balans, balans. Dit is so belangrik. 'n Koek in elke hand? Rond is ook 'n figuur? Volgens 'n studie deur die Indigo Wellness Index is Suid-Afrika die ongesondste land in die wêreld. Dis reg, nommer een. Nie Big Mac Amerika nie, Mzansi fo sho.
Blykbaar het dit te doen met die aantal mense wat oorgewig, depressief, en té lief vir drank is. Die regering se bydra tot gesondheidsorg word ook in ag geneem.
Japan is die gesondste land: baie vis, rys en groente. Inwoners bestee ook hul oggende aan stap, dansklasse en karate. Ek bestee my oggende aan koffie, koffie, en nog koffie; dis my tweede liefde, naas, jy't reg geraai, poeding.
Groot poeding, klein poeding, gebakte poeding, koue poeding, basaar-poeding, Kerspoeding; ek diskrimineer nie.
Al hierdie geskryf oor kos het my nou honger gemaak. 'n Kollega het brood gebak. Tot nou toe het ek gesê "nee, dankie", maar 'n koolhidraat-liefhebber kan ook net so lank vir haarself jok.