Liewe Graad 12-leerder, jy is klaar met skool! Of so hoop jy. Die punte moet nog uit en jou en Susan se antwoorde vir die biologie langvraag het verskil.
Jy's bekommerd, want Susan het 'n 99,9% gemiddeld en jy skuur deur met jou net-net 40. Toemaar, deur is presteer en niemand vra ooit wat jy in matriek behaal het nie.
Jou grootste bekommernis nou is hoe jy matriekvakansie gaan bestee. Of dit nou op die strand, op 'n boot, of op jou ouers se rusbank is, sit maar liefs sonskerm aan. Jeffreysbaai se Spur gons seker nou nog oor die pienk matrikulant wat skaars kon sit van seer op die koeivelbank. Pienk? Ja, pienker as Spur se pienksous.
Die volgende ding is nou om jou lisensie te kry, as jy nie reeds het nie. Ek was 22 jaar en 10 maande oud toe ek uiteindelik myne kry, so jy het nog tyd. Dis nie dat ek nie wou nie, stap was net so lekker en clutch control so moeilik.
Tydens my eerste paar maande as joernalis het ek en my ma maar gemaak of ons kollegas is, want sy moes my rondry na drugbusts en huisbrande toe. Mag ek eendag haar geduld en toewyding hê.
Wanneer die welverdiende rus (dis nou as jy nie vakansiewerk het nie), pret en baljaar verby is, wink die grootmens wêreld. Van julle gaan universiteit aanpak, ander gaan begin werk, en miskien gaan van julle 'n 'gap'-jaar vat. Wat ook al jy gaan doen, geniet dit, en moenie die dae aftel nie.
"Nog net een vraestel, dan is ek klaar met skool. Na drie jaar is ek klaar geswot. Na twee jaar kan ek ander werk soek." Wanneer hou ons op met tel? Buitendien, van te veel tyd omwens mis jy dalk net die lekkerste tyd van jou lewe.
As ek deur tyd kon terugreis, sou ek aan my 18-jarige self sê dat alles OK gaan wees. Jy sal vriende maak na skool, jy sal eendag 'n werk kry, en néé jy is nie vet nie. Ek sou meer tyd met my gesin spandeer, meer gereeld my oumas en oupas bel, en vroeër 'n stokperdjie kry wat ek regtig van hou.
Daar is nie regtig iets om by te voeg nie, want ek was heel voorbeeldig. Miskien moes ek maar 'n rebeljaar gehad het: 'n tatoeëermerk van wie-weet-wat op my linkerskouer gekry het, of vir so jaar of twee vir die Blou Bulle geskree het. Ek weet nie wat vir my Vrystaatfamilie erger sou wees nie.
Matrieks, geniet die tyd wat voorlê, and don't forget to live a little.