As kind aanvaar 'n mens verskeie dinge vanselfsprekend: die dak oor jou kop, die kos op jou bord, die klere aan jou lyf.
Warm somerdae het ons gevier deur waatlemoen te eet en sorgeloos deur die sproeiers te hardloop. Daar was nie worries nie, veral nie oor water nie.
Graaff-Reinet se eerste hittegolf het ons Maandag getref. Ek moet eerder sê dit het my getref, want dit lyk of die oud-inwoners heel gewoond is aan temperature wat verby 38 grade strek. Hoe hou julle dit?
Dit help natuurlik ook nie as daar nie water is nie. Inwoners het vandeesweek nog die naskok gevoel van laasweek Maandag se 12-uur-lange Eskom kragonderbreking. Boorgate het krag nodig, dus is geen water na reservoirs gepomp nie. 'n Week later het oor die 70 inwoners die Advertiser laat weet dat hulle steeds óf geen water het nie, óf baie min.
"Queenstraat is al sonder water vir 'n week," het Charlotte Diedericks gedeel, en volgens Zennith Liyema het Umasizakhe ook sonder water gesit.
Die Nqwebadam is so te sê leeg, en die bietjie water wat oor is word gebruik sodra dit weer die huise bereik.
"Ons is te veel mense, dit gaan ons ondergang wees," vertel 'n leser wat graag anoniem wil bly. Is hy reg, of kan ons saamstaan om die dorp uit 'n water krisis te red?
Ons is nie meer kinders nie. Ons weet waar water vandaan kom, en dat ons streek se reën min is. Ons weet dat baie gemeenskappe kilometers moet loop vir dié hulpbron, en dat dit selfs dan nie drinkbaar is nie. Ons weet dat die boere swaar kry, en dat ons dorpe nie net kan staat maak op diegene in beheer nie.
Draai die krane toe. Hou op tuin natmaak, karre was, en 'n bad geniet. Stort so vinnig as moontlik, herwin water, moenie die toilet na elke gebruik spoel nie, en rapporteer lekkasies.
Bring jou kant, of daar bly net miskien niks oor vir die kinders van die toekoms nie.
Het jy enige waterwenke om met die gemeenskap te deel? Stuur 'n e-pos aan paula@groupeditors.co.za en ons deel dit graag.