Liewe leser, ek hoop jy is in jou huis. Ek hoop jy het pajamas aan en ontspan. Tensy dit na 8vm of voor 8nm is - indien wel, skaam jou.
Nee, ek grap net. Ek kan nie onthou hoe 'normale klere' lyk nie, en die bure dink seker my Harry Potter PJ's is 'n uniform. Ek weet wat jy dink: néé dit is nie duiwels nie, en néé ek is nie te oud nie. Ouderdom is net 'n nommer, en op spertyd is ek 10; grondboontjiebotter-broodjie en Oros ingesluit. Het enige iemand anders al 5kg opgetel sedert inperking? Ek noem dit my lockdown lyf.
Ek het regtig nie gedink dat ek in my lewe 'n pandemie sal ervaar nie. Ek het nie eers daaraan gedink nie. Al daardie geskiedenis wat jy jou kind in SW help leer? Ons is deel van history in the making.
Dan is daar diegene wat nie by die huis kan bly terwyl geskiedenis ontvou nie. Die mense waarvan ons soms vergeet is nou op die president se lys van noodsaaklikhede. Hulle is nog altyd noodsaaklik, nou besef almal dit net.
Waar sou ons wees sonder ons boere, trokdrywers en kassiere? Sommige werkers sien nie hul eie families nie, want hulle kyk na die verswaktes en bejaardes. Hospitaal-personeel, dokters en verpleegsters waag hul lewens om die koronavirus, en al die ander siektes wat steeds in omgang is, te bekamp. Dinsdag is my vullis steeds verwyder, want wat is 'n dorp sonder sy munisipaliteit? Te dankie aan die plaaslike polisie sal kansvatters nie geduld word nie.
Die lys van noodsaaklike werkers is lank, en ek is seker ek het iemand uitgelos. Soos hulle vir weermagveterane sou sê: dankie vir u diens.
Vir die nié op die essensiële lys nie: julle is net so belangrik, en daar word nie veel van julle verwag nie. Bly net by die huis. Dis al. Niemand vra vir jou om oor die waters vir jou land te gaan veg nie - bly net by die huis.
En skink vir jou 'n glasie watookal terwyl jy daar is. Niemand neem jou kwalik nie. Dis 8nm iewers.