GEORGE NUUS - Hoekom is die 16-jarige downsindroom-swemsensasie van George, Minke Janse van Rensburg nie by die Paralimpiese Spele in Japan nie?
Dit is die vraag op almal se lippe, want daar is oor die algemeen aangeneem dat sy aan die Spele in Japan sou deelneem.
Minke se pa Hennie, het Maandag 30 Augustus die sluier gelig in 'n onderhoud met George Herald. Hy het verduidelik dat sy deur Swem Suid-Afrika in die oefengroep opgeneem is en ook na die Paralimpiese Spele se uitdunne genooi was.
Tydens die geleentheid het sy een van haar vier wêreldrekords twee keer op een dag tydens die uitdunne en die finaal verbeter.
"Ons het gehoop dat die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) downsin-droom as 'n klas sou byvoeg, maar dit het nie gebeur nie."
Volgens hom het beide Swem Australië en die internasionale liggaam, die Sportunie vir Downsindroom, die IPK gevra om die klas bygevoeg te kry.
"Ons hoop dit gebeur vroegtydig in die toekoms sodat Minke by die 2024 Spele in Parys Frankryk, kan meeding."
Hy het gesê hulle is teleurgesteld, maar het vertroue in Swem Suid-Afrika se Tadhg Slattery en die Kaapse afrigter, Keith Jansen, wat beide tans by die Paralimpiese Spele is. "Hulle voel sterk die klas moet geskep word en gaan die saak weer aanroer."
Minke is tans die vinnigste vroueswemmer met downsindroom in die wêreld en hou vier vryslagwêreldrekords ten spyte daarvan dat sy steeds 'n junior swemmer (16 en onder) is. Bo en behalwe die vier hou sy ook nog twee junior wêreldrekords.
Minke saam met Tatjana Schoenmaker by die 2020 SA kortbadkompetisie.
Deelname
"Ten spyte daarvan dat daar 13 of meer klasse is waaronder fisiek gestremde atlete kan meeding, is daar net een klas vir intellektueel gestremde persone. Mense met downsindroom is heelwat korter as normaal geboude persone wat net intellektueel gestremd is."
Voorts het downsindroom-swemmers ook ritme en koördinasie probleme en is hulle gewoonlik stadig uit die blokke uit. Hulle kan nie kompeterend meeding teen mense wat slegs intellektueel gestremd is nie.
Minke het op vrae van George Herald by monde van haar pa gesê sy hou baie van swem. "Ek hou van wen en ek hou van medaljes kry."
Minke ontvang die Bokkie-toekenning as junior sportster vIr 2019. Nie een van die ander genomineerdes was gestremd nie.
Die toekoms
Minke is genooi om vanaf 4 Oktober by die Europese-kampioenskap in Italië deel te neem, maar die kostes sluit in dat sy en haar ondersteuningspan tien dae in isolasie sal moet wees wat dit buitensporig duur maak.
"Ons beplan egter om haar Oktober 2022 by die vierjaarlikse Downsindroom-wêreldkampioenskap in Portugal te laat swem," het Hennie gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'