Gallery
TUINROETE NUUS - Suid-Afrika se vreeslose, top-rubberboot-waaghalse het mekaar weer in die 32ste Aquila Safari Trans Agulhas langs die berugte Kaapse Suidkus gepak en heerlike kykgenot vir vakansiegangers langs die kus verskaf.
Groot getalle ondersteuners en nuuskieriges het vanaf 28 Desember op die strande saamgepak om die genadelose wedvaart oor verradelike waters te sien. Die wedvaart is nie verniet bekend as die taaiste rubberboot-wedvaart in die wêreld nie.
Die wedvaart het in Plettenbergbaai weggespring en in Gordonsbaai ten einde geloop nadat die deelnemers kragtige branders, sterk winde en rotsagtige kusgebiede moes trotseer.
Die eerste skof het vanaf Plettenbergbaai tot by Santosstrand gestrek waar die deelnemers mekaar ook in 'n hindernisroete in die branders moes pak.
Die wenners van die moordende wedvaart - wat veral in die laaste skof uitmergelend was as gevolg van die sterk wind - was Marc Gleef en Wiltas Leeuwner, met Wade Ball en Brendan Shaw die naaswenners en Johan Lodewyks en Theunus van Zyl in die derde plek.
Rubberbote trek in dolle vaart weg in die Hobie Beach waters van Plettenbergbaai om die eerste skof te begin. Foto: Heinrich Sauer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'