GEORGE NUUS - Die 13-jarige Minke Janse van Rensburg, 'n leerder van Carpe Diem in George, is ná afloop van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Intellektueel Gestremdes (SASA II) se nasionale kampioenskappe verlede week in Pretoria gekies om Suid-Afrika, as lid van die nasionale Downsindroom-span, aan die wêreldkampioenskappe in Kanada deel te neem.
By die nasionale kampioenskappe het Minke vyf goue en twee silwermedaljes ingepalm.
Volgens haar pa, Hennie, is Minke baie gemotiveerd en mededingend en sal sy nie 'n oefensessie sommer uit vrye wil mis nie. Sy oefen vyf 90-minuut-sessies per week en is elke oomblik wat sy kan in die water.
Hennie, en sy vrou, Aletta, is baie dankbaar teenoor Sybeth Hughes en haar afrigtingspan by die Sammy Seal-swemklub vir die geduld en liefde waarmee Minke afrig en aanmoedig sowel as Carpe Diem, wat hul swembad beskikbaar maak. Die Van Rensburgs is dit eens dat Minke se sport haar lewenskwaliteit noemenswaardig verbeter het en hulle hoop dat haar prestasie ander Downsindroom-kinders se ouers kan oorreed om hul kinders aan te moedig om aan sport deel te neem.
Minke se wens is dat mense haar skool finansieel sal ondersteun om hul swembad in 'n binnenshuise swembad te verander nes soos dié een van Laerskool Knysna.
Diegene wat hiermee wil help kan die skoolhoof van Carpe Diem, Karools Hauptfleisch, by 044 874 4074 bel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'